Deel van God se volmaakte plan met ons almal is om hierdie jaar meer as ooit te groei in ons verhouding met Hom, en om in pas met Sy wil te leef. Daar is vyf bakens wat hierdie jaar vir ons in die gemeente kan help om koers te hou op God se pad:
Gemeente-visie
Om 'n gemeente te wees waar lidmate, gedring deur die liefde van Christus, vir mekaar en ander omgee.
Jaartema
God roep, ons bou! Ons wil hierdie jaar spesiale moeite doen om doelgerig ons gemeente te herbou. Die afgelope paar jaar was moeilik. Ons het baie verliese beleef. Ons het kosbare lidmate verloor. Daar is baie bedieninge en aktiwiteite wat in ons gemeente dood geloop het. En die tyd het aangebreek vir ons om ook weer ons gemeente te herbou en op te bou. Ons is opgewonde oor wat die Here in ons en deur ons gemeente gaan doen. Hy het 'n spesiale plan vir ons en Hy is besig om 'n wonderlike storie deur ons te skryf.
Sy Woord
Ons wil in hierdie jaar groei in ons kennis en uitlewing van God se Woord. Ons wil ook dieper in ons verhouding met die Here groei. Daarom gaan ons Sondae en in ons omgeegroepe meer tyd spandeer om dieper te delf in die Woord en hoe ons dit in ons lewe kan toepas. Ons beplan lekker preek-reekse en werkswinkels vir die jaar.
Gebed
Ons is 'n geloofsfamilie en dit beteken ons beskou mekaar as boeties en sussies. Ons dra mekaar se laste en gee om vir mekaar. Ons gebedspan leef met die oortuiging van Jakobus 5:16 - Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking. Daarom wil ons ook meer van gebed in ons gemeente maak, sodat God se wil in ons gemeente sal geskied, ons Sy Gees se leiding duidelik sal ervaar, en dat alles wat ons doen Sy Koninkryk meer sigbaar sal maak. Ons wil ook nie hê ons lidmate moet alleen hulle uitdagings hanteer nie. Daar is toegewyde kinders van die Here wat reg staan om langs jou in te skuif en sáám jou te bid. Enige gebedsversoek is altyd welkom.
Verhoudings
Naas ons verhouding met God, is ons verhouding met mekaar ook 'n belangrike fokuspunt. Huweliksverhouding, gesinsverhouding en verhouding met mede-gelowiges (veral in ons bedieninge en omgeegroepe) is vir ons van wesenlike belang. Ons wil in hierdie jaar deurlopend aan ons verhoudings werk en so in ons verhoudings groei.
Kom ons gaan saam opmars met ons Leidsman, en laat Hom toe om ons te vorm en te gebruik tot Sy eer.
"Ons is almal diep onder die indruk dat ons mekaar baie nodig het en dat ons saam sterker is te midde van hoe fel die uitdagings ookal mag wees," sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, in 'n kort bemoedigende videoboodskap namens die Algemene Sinode aan lidmate en leiers van die kerk.
Claassen maak ook spesiale melding van lidmate wat as mediese personeel en gesondheidswerkers in die voorste linies teen die koronavirus veg, dikwels teen 'n baie hoë prys.
Lidmate word ook versoek om inenting teen die koronavirus sterk te oorweeg omdat dit 'n effektiewe wyse bied om die virus te beveg.
(Bron: Kerkbode - 11 Junie 2021)
Beste susters en broers
Die inperking van individuele vryheid om rond te beweeg en te werk is vir ons ’n nuwe ervaring. COVID-19 is egter ’n geleentheid vir die kerk om te doen wat sy die beste doen – om mense in nood te bedien en hoop en lig te bring na donker plekke en omstandighede.
Dit is ook ’n tyd om mekaar se harte aan te raak – deur wat ons sê, wat ons deel, wat ons doen en deur wat ons nie doen nie – en om die lewens te beskerm wat God so liefhet. In hierdie liefde moet ons die manier waarop ons aanbid en gemeenskap met mekaar het, aanpas by die veranderende tye gedurende die pandemie. Ons moet die risiko om bronne van oordrag te word vermy, maar moet draers van genade bly.
In die lig van COVID-19 reageer die wêreldgemeenskap met drastiese stappe om die verspreiding van die siekte te beperk en die impak daarvan te verlig.
In ons reaksie as ’n kerk is dit baie belangrik om te luister na die raad van gesondheidsorgkundiges, met kundigheid oor hoe om die gemeenskap te beskerm en te verhoed dat die virus verder versprei. Ons moet ook op hoogte bly van openbare aankondigings.
As kerk is ons deel van gemeentes en gemeenskappe waar ons na aan mekaar woon en werk. Ons moet op hierdie nuwe situasie reageer op maniere wat met ons visie ooreenstem. Ons moet hulp verleen aan die weerloses, aan dié wat angstig of geïsoleer voel. Terwyl ons dit doen, moet ons voldoen aan die sosiale maatreëls en protokols wat ingestel is om verdere infeksies te verhoed.
As plaaslike kerke dink julle reeds anders oor aanbiddingspraktyke, insluitend die bediening van die nagmaal, die oordra van vrede en om mekaar te groet op maniere wat ons gemeenskaplike lewensdoel weerspieël terwyl ons ook luister na die gesondheidsadvies van kundiges.
Die situasie verander vinnig. Bly daarom ingelig deur die amptelike gesondheidskanale van jou plaaslike regering of gebied. Jy sal in hierdie tyd ook vanuit kerklike kringe op hoogte gehou word deur briewe soos hierdie en Kerkbode by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Intussen het daar ’n oproep van president Cyril Ramaphosa gekom om deel te wees van ’n nasionale gebedsgeleentheid. Die tyd wat vir hierdie gebedsgeleentheid voorgestel word, is 26 Maart 2020 vanaf 18:00 tot 18:30. Die NG Kerk wil graag hieraan deelneem. ’n Beroep word gedoen dat elke gemeente, op watter manier ook al binne die voorgeskrewe maatreëls, daaraan sal meedoen.
Vir vandag se gebedsgeleentheid en vir die tyd vorentoe vra ons dat daar vir die volgende sake voorbidding gedoen sal word:
Saam in Sy diens
Gustav Claassen
ALGEMENE SEKRETARIS
Goeiedag alle Rietfontein-Suid lidmate.
Ek is besig om 'n whatsapp groep bymekaar te sit as die enigste amptelike groep waarop verder met lidmate gekommunikeer gaan word aangaande eredienste, vergaderings, byeenkomste ens. en waarop bv. vir die Sondae preekboodskappe geplaas gaan word.
Tussendeur sal ek ook (veral positiewe) boodskappe aangaande die hantering van die Coronavirus plaas.
Indien u nog nie op die whatsapp-groep is nie, gebruik hierdie link om deel te word:
https://chat.whatsapp.com/Jk9gPw33NOoDXLIpE9Nx85
Hierdie boodskap kom na jou van my as Predikant, maar ook as Dagbestuur- en Kerkraadsvoorsitter.
Dankie!
Ds Leon Tait