Hier staan ons …
Die Reformasie het nie net oor kerk en teologie gehandel nie. Dit was 'n protesaksie teen die uitbuiting en misleiding van mense deur kerk en staat – teen korrupsie. 500 jaar later eis die tyd waarin ons leef in die land waarin ons leef van gereformeerdes, van die kerk van die Reformasie om op te staan en om in die woorde van Luther te sê: Hier staan ons, ons kan nie anders nie.
Volgens oorlewering was die eerste groot daad van protes teen die misleiding van lidmate, Luther se optrede op 31 Oktober 1517 toe hy sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het. Die aanleidende oorsaak tot hierdie gebeure was die aflaatstelsel waarmee die kerk mense mislei en uitgebuit het.
Volgens die aflaatstelsel het Christus, Maria en die heiliges sonder sonde geleef. Hulle het 'n groot aantal goeie werke gedoen wat in die hemel gestoor is. Wanneer gewone mense gesterf het, het hulle met meer sonde as goeie dade in die hiernamaals aangekom. Dit het beteken dat hulle eers na die vaevuur moes gaan waar hulle ongekende lyding ervaar het voordat hulle in die hemel toegelaat sou word. Familie en vriende van iemand wat gesterf het kon so 'n persoon se tyd in die vaevuur verminder deur aflaatbriewe te koop. Hierdie stelsel waarmee gelowiges mislei is, het enorme bedrae geld vir die kerk en die staat ingebring.
Johann Tetzel, 'n Dominikaanse monnik was verantwoordelik vir die verkoop van aflaatbriewe in die omgewing van Wittenberg. Hy het die bemarking van aflaatbriewe gewoonlik afgeskop deur 'n groot vuur op die dorpsplein te maak. Dit moes gelowiges aan die vaevuur herinner. Daarna het 'n emosionele preek gevolg waarin gelowiges opgeroep is om aflaatbriewe te koop ter wille van familie en vriende wat in die vaevuur aan die brand was.
Volgens Luther kon hierdie misleiding nie langer voortgaan nie en daarom kon hy nie langer stilbly nie.
Ons ken nie meer 'n aflaatstelsel nie, maar gelowiges in Suid-Afrika word op talle ander maniere mislei onder meer deur 'n regering wat mank gaan onder korupsie van ongekende skaal.
Biskop Malusi Mphumlwana van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het so ver gegaan as om dit 'n "sondige regering" te noem. Hoewel die konteks verskil, het dit weer tyd geword om te protesteer. Dit hoort op ons agenda as ons regtig getrou wil wees aan ons gereformeerde wortels.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Dis tyd om nuut te dink oor die amp
In meer en meer gemeentes word ouderlinge en diakens vervang met gemeenteleiers. In die Handleiding vir die erediens is daar selfs 'n formulier vir die indiensstelling van gemeenteleiers. Kerkrade word saamgestel uit gemeenteleiers sonder ouderlinge en diakens wat beteken dat hulle geen kerkregtelike locus standi het nie.
Dit het dringend tyd geword dat daar nuut gedink word oor die amp.
Die hervormers het tydens die Reformasie nie net die liturgie en teologie van die kerk hervorm nie. Die kerkregeringstelsel is ook grondig hervorm.
Die herontdekking van die amp van die gelowige as die belangrikste amp in die kerk was krities belangrik vir die ontwikkeling van die amp binne die Gereformeerde tradisie. Dit is juis hierdie verbreding van die amp wat verder gevoer kan word omdat alle gelowiges gawes ontvang het met die oog op dienswerk in en buite die gemeente.
Calvyn se besinning en verstaan van die ampte as dienste bied 'n belangrike raamwerk waarbinne 'n nuwe verstaan van die ampte in missionale gemeentes bedink kan word. Die feit dat hy melding maak van "dienaars in die konsistorie" in die Discipline Ecclesiastique (1559, Parys) dui daarop dat hy die ampte as verskillende dienste – almal op dieselfde vlak – tot diens van die gemeente en die wêreld verstaan het.
Hy het vier ampte geïdentifiseer, naamlik leraars, ouderlinge, diakens en doktore. Laasgenoemde omdat dit deur die "noodsaaklikheid van sy eie tyd" nodig was.
In 'n wêreld van ongeletterde mense moes die kerk onderrig en daarvoor was 'n spesifieke amp nodig. Dit is hierdie siening van Calvyn wat ons help om te verstaan dat die nood van die tyd waarin die kerk leef, nuwe ampte of ander ampte moontlik maak – maar altyd met behulp van grondige interpretasie van die Bybel.
Die "noodsaaklikheid van ons eie tyd" daag ons uit tot 'n nuwe verstaan van die amp. Dit is eg gereformeerd!
Miskien help dit ons nie net om nuwe ampte vir ons tyd en konteks te ontdek nie, maar ook die bestaande ampte opnuut tot hulle reg te laat kom.
Diakens kan mos in die tyd waarin ons leef intens betrokke wees by die bestryding van armoede en die versorging van armes soos wat hulle taak in die Bybel beskryf word.
Ouderlinge kan en moet toesig hou oor wat in gemeentes gebeur en nuwe ampte – wel hulle kan die dienswerk waartoe die tyd ons uitdaag verrig.
Dan sal dit nie nodig wees om die spreekwoordelike baba met die badwater uit te gooi en van ouderlinge en diakens 'n bedreigde spesie te maak nie.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Wittenberg 2017: 'n Ou droom herontdek
"Vandag is 'n historiese dag," het prof Jerry Pillay, vorige president van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde kerke op 5 Julie in Wittenberg, Duitsland tydens die vergadering van die liggaam gesê. Hy het verwys na die ondertekening van 'n gesamentlike ekumeniese verklaring deur Katolieke, Metodiste en Lutherane wat daarop gerig is om die 500 jaar oue geskille tussen die protestante en die Katolieke wat uit die era van die Reformasie dateer, te oorbrug.
Die belang van die ondertekening is later verder bevestig deur ds Najla Kassab van Libanon, die nuutverkose president van die Wêreldgemeenskap, toe sy gesê het: "Vandag teken ons nie net 'n gesamentlike verklaring nie – ons bou 'n kerk saam."
Die belang van die gebeure is verder onderstreep deur 'n brief van Pous Franciskus wat deur biskop Farrell voorgelees is. Hy het onder meer geskryf dat die ondertekening simbolies is van die verbintenis om as broers en susters in Christus die pad saam te loop op 'n reis van konflik na gemeenskap en van verdeeldheid na versoening."
Hierdie uitsprake maak dit duidelik dat die droom oor groter eenheid in die kerk na 500 jaar dalk weer herontdek is, want hierdie versugting na eenheid in die kerk is niks nuuts nie. In 1552 het Calvyn aan Thomas Cranmer geskryf dat "die liggaam van Christus lê en bloei" en dat hy meer as gewillig sou wees om tien oseane oor te steek om die eenheid van die kerk te probeer herstel.
Alhoewel Wittenberg 2017 dalk baie ver van ons hier aan die suidpunt van Afrika is en ons intens met belangrike sake soos werkloosheid, korrupsie en armoede worstel, moet dit ons tog herinner aan die feit dat die eenheid van die kerk onherroeplik deel van ons getuienis aan die buitewêreld is. Hierdie feit word bevestig deur die toespraak van mnr Nelson Mandela voor die Algemene Sinode van 1994. As nuutverkose president en nie-lidmaat het hy die NG Kerk uitgedaag tot versoening, tot die bekamping van armoede en tot kerkeenheid.
Wittenberg konfronteer ons met die vraag of ons soos Calvyn bereid sou wees om tien oseane oor te steek ter wille van die eenheid van die kerk? Moenie vrees nie – dis waarskynlik nie nodig nie – dalk hoef jy slegs 'n pad oor te steek of na 'n naburige woongebied te ry om kontak te maak om deel van die herontdekte droom van Wittenberg 2017 te word!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede