2 April is Outisme dag
Die Wêreldgesondheidsorganisasie gedenk slegs drie siektes op spesifieke dae. Een van hierdie toestande is outisme, en dit dui op die voorsiene impak wat hierdie toestand op die samelewing gaan hê. Die tweede April is outisme dag en die hele maand word wêreldwyd gebruik vir bewusmaking en inligtingverspreiding. Dit word aanvaar dat een uit elke honderd kinders gediagnoseer word om op die outistiese spektrum te val. As ons aanvaar dat hierdie syfer dieselfde is in Suid-Afrika, beteken dit dat 'n kind met outisme elke uur in ons land gebore word en dat daar huidiglik in die Vrystaat ongeveer 400 kinders per jaar gebore word met die diagnose.
Outisme is 'n toestand wat die ontwikkelende kinderbrein affekteer en probleme veroorsaak in drie areas, nl. kommunikasie, sosiale interaksie en die verbeeldingswêreld. Die algemene publiek sal dikwels eerste dink aan die karakter soos uitgebeeld deur Dustin Hoffman in Rain Man of miskien Raaiselkind van Annelie Botes. Hierdie siening verarm die werklikheid, aangesien elke kind met outisme uniek is.
Hulle het almal probleme in die areas reeds genoem, maar sal van mekaar verskil in ander. So sal die kinders wissel in vermoë, van talentvol tot kognitief gestremd, verbaal tot nie-verbaal, hipo- of hipersensitief vir die omgewing en met 'n geaardheid wat wissel van passief tot aktief.
Meeste mense weet van die verbasende vaardighede wat sommige persone op die outistiese spektrum het, soos bv. rekenkundige vaardighede, geheue vir feite of kuns- en musiektalent. Dit is steeds nie duidelik hoekom sulke besondere talent dikwels gepaardgaan met onverwagse swak punte in ander areas nie. Die waarheid is dat meeste van die kinders 'n ontwikkelingspatroon van sterk en onverwagse swak punte het.
Navorsing toon aan dat hul breinontwikkeling op 'n vroeë ouderdom versteur word a.g.v. 'n wisselwerking tussen gene en die omgewing. Dit veroorsaak dat die kommunikasiepunte tussen senuweeselle atipies ontwikkel, sodat die brein beter lokale- as langafstandkonneksies vorm. Dit bring mee dat hulle die omgewing anders ervaar en taal moeilik verstaan en ook meer ge-interesseerd is in voorwerpe as in mense.
Die kritieke sosiale interaksie tussen ouer en kind word dus versteur, wat lei tot verdere onderstimulasie en dat die kind ontsnap na 'n wêreld wat vir hom of haar voorspelbaar is. Hierdie ontsnapping manifesteer as herhalende gedrag, bv. 'n fassinasie met draaiende voorwerpe en moontlik later spesifieke belangstellings soos dinosourusse, treine of selfs die verskillende tipes kragpale. Omdat die kinders se voorkoms nie verskillend van tipiese kinders is nie, is mense dikwels onverdraagsaam teenoor hul soms vreemde optrede, iets wat soms vir ouers 'n verleentheid is.
Vroeë waarskuwingstekens van die toestand sluit in kinders wat nie op hulle naam reageer nie, stadige of atipiese taalontwikkeling, atipiese interaksie met hul portuurgroep en stereotipe bewegings. In 'n meertalige omgewing soos Suid-Afrika sal kinders soms presenteer met 'n taal wat aangeleer word van die televisie en wat verskil van die huistaal. Navorsers glo dat ons binnekort babas tussen en ses en twaalf maande reeds sal kan identifiseer deur te kyk na onder andere die kwaliteit van hul oogvolgbewegings.
Dit is van groot belang dat alle kinders met gevaartekens vroeg verwys word vir evaluasie, want vroeë ingryping kan keer dat outisme die normale ontwikkeling nog meer ontwrig. Terapeute en onderwysers wat spesialiseer in outisme-spesifieke behandeling speel hier 'n kritiese rol.
Die Internet is nog geduldiger as papier en ongelukkig wissel die kwaliteit van inligting beskikbaar vir ouers geweldig. Die gerug dat immunisasies en kwik die oorsaak is van die verhoogde voorkoms van die toestand word steeds aktief versprei. Ouers kan gerus na 'n boek soos Autism's False Prophets deur Dr. Paul Offit gaan om nader aan die waarheid te kom oor hierdie onderwerp. Outisme Suid-Afrika en Autism Speaks het beide webwerwe met baie hulpbronne en besonderhede oor goedgekeurde diensverskaffers.
Die ongemaklike waarheid is dat ons nog nie goedgevestigde dienste vir veral jong kleuters in die Vrystaat het nie. Daar is gelukkig klasse wat ontwikkel in skole soos Lettie Fouchè, Willem Postma en Pholoho. Die Vrystaat Outisme Ouervereniging het 'n privaatskool begin wat huidiglik n diens bied aan sewe leerders.
Die filosoof John Rawls het gesê dat, indien ons 'n nuwe samelewing sou beplan waar ons eie plek en talente versluier is, ons dit so sou doen om veral die kwesbares en weerloses in 'n vangnet te ondersteun. Hierdie is 'n kwessie wat ons almal raak en gaan raak en daarom behoort ons as samelewing saam te staan en te help.
Dr. D.J. Griessel - Ondervoorsitter Outisme Suid-Afrika
- Besonderhede
Kom ons leer die kinders!
Wat het die herdenking van die Reformasie vyf eeue gelede te doen met van die uitstaande skole in ons land soos Grey Kollege in Bloemfontein? Wel, eintlik alles!
Die verhaal loop soos volg: In 1855 het Andrew Murray jr met sy bediening in Bloemfontein begin. Murray het gou bewus geword van die behoefte aan 'n goeie skool en het 'n leidende rol gespeel in die vestiging van 'n kollege waar jong mans opgelei kon word as onderwysers.
Sy toewyding aan die saak van onderwys en 'n donasie van £4,500 (R74 934,11) deur Goewerneur George Grey, goewerneur van die Kaapkolonie, het dit moontlik gemaak dat die hoeksteen van Grey Kollege op 13 Oktober 1856 deur president Boshoff gelê is. Met die amptelike opening van Grey Kollege op 27 Januarie 1859 is Murray as die eerste rektor aangewys.
Dit is dieselfde Murray wat bykans 20 jaar vroeër tydens sy studie in Aberdeen, Skotland, met die werk van die Skotse hervormer John Knox te doen gekry het. Knox het op sy beurt weer in Genève met Calvyn se standpunte oor die onderwys te doen gekry.
Van Calvyn in Genève via Knox na Skotland via Murray na Suid-Afrika – en 500 jaar later pluk Suid-Afrika steeds die vrugte van uitnemende skole soos Grey Kollege.
Om die impak van die Reformasie op die onderwys van die tyd te verstaan, moet ons egter vir 'n oomblik stilstaan by Luther. Luther het meer breedvoerig oor die onderwys geskryf as enige van die ander hervormers. Sy twee uitstaande werke was: Aan die Raadslede van alle stede in Duitsland sodat hulle Christelike skole kan vestig en onderhou (1524) en 'n Boodskap om kinders in die skool te hou (1530).
In hierdie twee dokumente het Luther breedvoerig geskryf oor die noodsaaklikheid van opvoeding en onderwys, verskillende curricula, metodes van onderwys, die noodsaak van biblioteke, die verantwoordelikheid van die staat, die verantwoordelikheid van ouers en die belangrike rol wat Christen-onderwysers moes speel.
Daarmee het Luther ongetwyfeld die fondament gelê wat deur ander hervormers soos Calvyn, Melanchton, Zwingli en Knox verder uitgebou en ontwikkel is.
Vyfhonderd jaar later leef Suid-Afrikaners in 'n land met ’n onderwysstelsel in chaos. Miskien moet deel van ons feesvier wees om dit wat hervormers oor die kerk se verantwoordelikheid ten opsigte van onderwys en opvoeding geskryf het, te herbesoek.
Op die spoor van 'n Andrew Murray jr sal daar dalk iewers 'n skool of skole ontstaan wat oor dekades heen 'n positiewe bydrae tot kerk en samelewing kan lewer en dan sal ons kan juig: Ecclesia Reformans semper reformanda" – Leer die kinders!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Laat ons uit volle bors sing
In die Gereformeerde tradisie is kerkwees, musiek en sang byna sinoniem met mekaar. Heel dikwels word gemeentes in ons dag "gemeet" aan die sang en musiek van die gemeente.
Hoewel sang en musiek deur die eeue baie verander het en daar ook vandag wesenlike verskille bestaan oor die tipe musiek wat in gereformeerde kerke gebruik word, is die belang van musiek onontkenbaar. Dit was een van die grootste bydraes van die Reformasie.
Luther was 'n groot voorstander van musiek. In 'n brief aan Ludwig Senfl skryf hy: "Ek is nie skaam om openlik te bely dat daar naas teologie geen ander kunsvorm bestaan wat met musiek vergelyk kan word nie. Musiek alleen, kan naas teologie die siel van die mens laat stil word of opbeur. Dit is duidelik dat die duiwel, wat die argitek van neerdrukkende bekommernisse en negatiewe gedagtes is, van die klanke van musiek wegvlug net soos wat hy vlug van die woorde van teologie."
Luther het nie net oor die belang van musiek gepraat nie. As gevolg van sy eie sangvernuf het hy die bynaam "die Wittenbergse nagtegaal" gekry.
Dit is daarom nie vreemd dat Luther die belang van musiek in eredienste verstaan het nie. In 1523 het hy begin om liedere vir 'n liedboek te versamel wat in 1524 gepubliseer is. Onder Luther se leiding het gereformeerde gemeentes begin deelneem aan gemeentesang en het sang en musiek integraal deel van die erediens geword.
Koorsang was altyd vir Luther belangrik, maar 'n gemeente wat sing, was vir hom hemels. In 1528 het hy die beroemde lied 'n Vaste burg is ons God geskryf – 'n lied waarvan ons die eggo's steeds 500 jaar later hard en duidelik hoor.
Dit maak nie saak wat jy van Luther dink of hoe jy sy werk beoordeel nie – een feit staan soos ’n paal bo water: Hy het gereformeerde gemeentes geleer sing!
Waarskynlik is dit een van die grootste nalatings en uitdagings aan gemeentes in ons dag – om weer te begin sing! In ’n tyd waarin musiek in eredienste oorheers word deur voorsanggroepe en orkeste en waar lidmate al meer toeskouers word, daag die Reformasie ons uit om lidmate weer aan die sing te kry.
Om gereformeerd te wees beteken om waar lidmate in die erediens saamkom uit volle bors saam te sing!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede