Om gereformeerd te wees, vra waagmoed
Aan die bopunt van Hugenotelaan in Franschhoek staan die Hugenote-monument. Dit is in die laat veertigerjare van die vorige eeu opgerig om ons te herinner aan die 180 Franse Hugenote wat in 1688 na Suid-Afrika gekom het.
Die drie imponerende gewels van die monument simboliseer die Drie-eenheid: Vader, Seun en Heilige Gees. Bokant die gewels – die son van geregtigheid en bokant die son – die kruis as simbool van die Christelike geloof wat vir die Hugenote ononderhandelbaar was.
Die fokuspunt van die monument is 'n vroulike figuur, ontwerp deur Coert Steynberg, wat godsdiensvryheid uitbeeld. In haar een hand hou sy 'n Bybel en in die ander hand 'n gebreekte ketting. Sy gooi die kleed van onderdrukking van haar skouers af terwyl haar posisie op die aardbol geestelike vryheid simboliseer. Die fleur de lis op haar kleed dui op haar edel karakter.
Sy staan met haar voete op die suidpunt van Afrika en kyk afwagtend die toekoms in. By haar voete is vier simbole: die Bybel wat op geloof dui, 'n harp wat kuns en kultuur simboliseer, 'n koringaar en 'n druiwetros wat landbou simboliseer en 'n spinwiel wat nywerheid en industrie versinnebeeld.
Die watervywer voor die monument met die weerkaatsing van die suilegang voor die monument simboliseer ongestoorde gemoedsrus en sielevrede na 'n tyd van stryd en woeling.
Wat sou dit alles beteken in die jaar waarin ons 500 jaar van gereformeerd-wees herdenk?
Miskien vertel die simboliek van die monument aan ons dat gereformeerd-wees waagmoed vra, dat gereformeerd wees nie 'n krampagtige vasklou aan ou leerstellings en dogmas is nie maar dat dit waagmoed vra om nuwe horisonne te verken soos wat die Hugenote gedoen het.
Miskien daag die simboliek van die monument ons uit om seker te maak dat die Woord sentraal is in ons kerkwees. Dat dit ons vrymaak van ons eie voorkeure en vooroordele sodat ons met oorgawe kan sê: Sola Scriptura en Solus Christus.
Miskien daag die simboliek van die monument ons uit om met waagmoed te gaan kerk wees waar kuns en kultuur beoefen word, in die landbou en waar daar in nywerhede gewerk word – om met waagmoed onverskrokke gestuurdes te wees wat die evangelie verkondig in 'n land wat swaar gebuk gaan onder misdaad en korrupsie.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Dit was nie net maanskyn en rose nie
Met die 500 jarige herdenking van die Reformasie kan dit maklik gebeur dat dié stuk geskiedenis so geromantiseer word, dat die slegte verhale wat onlosmaaklik deel daarvan was, nie ter sprake kom nie. Die Reformasie was nie net maanskyn en rose nie – inteendeel – dit het ook 'n baie donker kant gehad.
Die kleinboere-opstand wat tussen Junie 1524 en Julie 1525 plaasgevind het was van die eerste gebeure wat soos 'n donker wolk oor die Reformasie gehang het. Alhoewel die opstand die gevolg van smeulende teenstand teen die adel was, was die prediking van Luther maar veral dié van Müntzer, Pfeiffer en Karlstadt die spreekwoordelike vuurhoutjie in die kruitvat.
Luther het met sy werk, Die vryheid van 'n Christen, die grondwerk gedoen vir 'n gemeenskap waarin almal, ongeag hulle status, priesters was wat aanspreeklik was voor God. Toenemende geletterdheid onder gewone mense het daartoe gelei dat hulle self die evangelies begin lees het en verstaan het dat Christus aan die kant van die armes was.
Die kleinboere-opstand het op 23 Junie 1524 onder leiding van Hans Müller begin maar is veral verder gevoer deur Thomas Müntzer. Müntzer het homself as vegtende priester beskou wat in die voetspore van Gideon van die Ou Testament gevolg het. Hy het onder meer sy briewe onderteken as: "Thomas Müntzer – met die swaard van Gideon".
Die kleinboere-opstand het in 'n bloedbad geëindig toe meer as 5 000 boere in 'n geveg met George van Sakse en Philip van Hesse doodgemaak is. Müntzer het gevlug maar is op 27 Mei 1525 buite Mühlhausen gevang en onthoof. Meer as 100 000 mense het op die ou end in hierdie bloedige oorlog gesterf terwyl die ellende wat gevolg het as gevolg van die verwoesting van plase en landbougereedskap, onbeskryflik was.
Alhoewel Luther die kleinboere aanvanklik simpatiek gesind was, het hy na die dood van Müntzer en veral na beskuldigings van die Katolieke kerk gereageer in 'n traktaat met die titel: Teen die bendes gepeupel wat plunder en moor.
Daarin het hy onder meer geskryf dat enige persoon wat een van die opstandelinge doodmaak, God 'n guns bewys! Luther het duidelik besef dat die opstand van die boere nooit sou slaag nie. Hy moes hom daarvan distansieer of die gevaar loop dat die hele Reformasie daarmee saam sou misluk.
Die kleinboere-opstand was voorwaar 'n donker wolk wat bevestig dat die Reformasie nie net maanskyn en rose was nie!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Dis tyd om sola scriptura te leef
Sola scriptura! – die Bybel alleen – is een van die hoekstene van die Reformasie. In 'n wêreld waar gelowiges moes luister na wat die priesters en biskoppe oor die Bybel sê en waarin die gesag en die uitsprake van die pous aan die gesag van die Bybel gelykgestel is, was die herfokus van die hervormers op die Bybel niks minder as 'n wonderwerk nie.
Van Luther se eerste vertaling van die Nuwe Testament is binne drie maande bykans 5 000 kopieë verkoop. In die opvolgende jare is meer as 200 000 kopieë verkoop. Hierdie syfers wys dat daar 'n onversadigbare honger na die Bybel was. Lidmate wou dit self lees!
Luther se ballingskap het hom in staat gestel om die hele Bybel te vertaal en teen 1534 was die Bybel in Duits in die hande van gewone gelowiges. Dit is daarom nie vreemd dat 'n bekende kerkhistorikus oordeel dat die vertaling van die Bybel in Duits, Luther se mees uitstaande werk was nie.
Met reg kan gesê word dat die Reformasie weer aan die Bybel sy regmatige plek in die kerk gegee het. Dit is gelees, gepreek en bestudeer. Luther self het op 'n keer opgemerk dat prediking sonder grondige eksegese van die teks nie die verkondiging van die evangelie is nie.
Waar laat dit ons 500 jaar later? Die vraag moet gevra word of ons regtig nog ernstig is oor die Bybel? Eintlik hoort so 'n vraag nie in 'n gereformeerde kerk nie. Tog mag die antwoord op hierdie vraag ons dalk net op 'n plek bring waar die kerk was voor die Reformasie – 'n kerk waarin die Bybel wel plek het maar nie meer sentraal staan nie.
Die wyse waarop kansels – die simboliese fokuspunte van die Bybel wat sentraal is in gereformeerde eredienste – in al meer kerkgeboue afgebreek word, is dalk net 'n sigbare aanduiding van dit wat met die Bybel in lidmate se lewe gebeur het. Die skokkende swak Bybelkennis van baie jonger lidmate bevestig hierdie feit.
As dit waar is dat ons nog ernstig is oor die Bybel, dan daag die 500-jarige herdenking van die Reformasie ons uit om opnuut seker te maak dat die Bybel sentraal is in die lewe van die kerk.
Dan moet ons prediking gebou wees op grondige diepgaande eksegese van die Woord. Ons moet lidmate aanmoedig om hulle Bybel met nuwe ywer te lees en ons moet hulle opnuut uitdaag en geleenthede skep om die inhoud van die Bybel te leer.
Dalk het dit opnuut tyd geword om nie sola scriptura te sê nie, maar om dit te begin leef!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede