Wie het die Bybel geskryf?
Die Bybel is 'n besonderse boek wat oor 'n tydperk van minstens 1200 jaar geskryf is deur 'n verskeidenheid skrywers, van skaapwagters tot konings.
Dit sluit in profete soos Moses, Daniël en Jesaja en geleerde mense soos Esra, konings soos Dawid en Salomo, en apostels van Jesus Christus soos Petrus en Paulus.
Omdat daar so baie uiteenlopende skrywers was wat met die oog op heel verskillende situasies geskryf het, "hoor" die Bybelleser die Woord van God uit verskillende perspektiewe.
Die wonder van die Bybel is egter dat die verskillende boeke steeds dieselfde boodskap en begrip van wie God is, bevat!
Die Bybel is werklik 'n ongelooflike boek want dit spreek mense van alle ouderdomme en nasionaliteite deur alle eeue aan!
Bron: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika
- Besonderhede
Hervormingsfees 2017: En wat nou?
Feeste is gereël. Kore en sanggroepe het gesing. Gedigte is geskryf. Preke is gepreek. Konferensies het plaasgevind. Selfs kermisse is gehou om die Reformasie wat 500 jaar gelede plaasgevind het, te vier. Die groot vraag is: Wat nou?
Nadat die laaste note van die liedere weggesterf het, en die laaste woorde van die preke geuiter is, moet ons vra: Wat nou? Nadat die laaste kritiese vrae tydens konferensies gevra is moet ons dink: Wat gebeur nou? Wat gebeur op 1 November en 10 Desember? Watter invloed gaan hierdie feesviering hê in 2018 en 2019 en daarna?
As ons nie 'n duidelike antwoord op hierdie vraag kry nie, of ten minste ernstig daaroor nadink nie, was al die feesvieringe tevergeefs. As die herdenking van die Reformasie nie mense se hart aangeraak het en verander het nie, was dit nutteloos en net nog 'n kerklike partytjie.
500 jaar gelede het die Reformasie mense getransformeer. Luther het, nadat hy Romeine 1: 16-17 gelees het, besef dat hy kan ophou soek na God omdat God hom reeds gevind het! Hierdie wete het 'n Katolieke teoloog verander in 'n Gereformeerde evangelis. Luther sou later opmerk dat prediking nie prediking is as die evangelie van Jesus Christus nie aan mense verkondig word nie!
Nadat Calvyn gesê het: "Ek gee my hart aan God – hier en nou" is hy van 'n vlugteling- Franse predikant in 'n teoloog verander wat die wese van Gereformeerd-wees in sy Institusie neergepen het. Die Reformasie was veel meer as kritiek teen die Katolieke kerk – dit was ten diepste 'n hartsverandering van mense.
500 jaar later is dit dalk deels die antwoord op die vraag: "En wat nou?" – moet dit die gevolg van die feesvieringe wees – mense, lidmate wat verstaan dat hulle vrygemaak is om vreugdevol te leef. Gelowiges wat verstaan dat hulle 'n roeping in hierdie wêreld het as gestuurdes van die drie-enige God.
Dit is nie sonder rede dat Luther geskryf het dat die kerk as strydende kerk, ecclesia militans, op weg moet wees deur die wêreld nie en dat alle gelowiges opgeroep word om deel te wees van hierdie opwegwees, sodat almal aan die einde deel kan wees van die triomferende kerk, ecclesia triumphans.
In Suid-Afrika beteken dit dat gelowiges nie langer sal terugdeins van korrupsie en misdaad en armoede en vrot onderwys en die verval van infrastruktuur nie. In Suid-Afrika beteken dit dat die kerk wat die Reformasie gevier het, iets daadwerkliks sal doen – soos talle kere in die verlede.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede