Beste susters en broers
Die inperking van individuele vryheid om rond te beweeg en te werk is vir ons 'n nuwe ervaring. COVID-19 is egter 'n geleentheid vir die kerk om te doen wat sy die beste doen - om mense in nood te bedien en hoop en lig te bring na donker plekke en omstandighede.
Dit is ook 'n tyd om mekaar se harte aan te raak - deur wat ons sê, wat ons deel, wat ons doen en deur wat ons nie doen nie - en om die lewens te beskerm wat God so liefhet. In hierdie liefde moet ons die manier waarop ons aanbid en gemeenskap met mekaar het, aanpas by die veranderende tye gedurende die pandemie. Ons moet die risiko om bronne van oordrag te word vermy, maar moet draers van genade bly.
In die lig van COVID-19 reageer die wêreldgemeenskap met drastiese stappe om die verspreiding van die siekte te beperk en die impak daarvan te verlig.
In ons reaksie as 'n kerk is dit baie belangrik om te luister na die raad van gesondheidsorgkundiges, met kundigheid oor hoe om die gemeenskap te beskerm en te verhoed dat die virus verder versprei. Ons moet ook op hoogte bly van openbare aankondigings.
As kerk is ons deel van gemeentes en gemeenskappe waar ons na aan mekaar woon en werk. Ons moet op hierdie nuwe situasie reageer op maniere wat met ons visie ooreenstem. Ons moet hulp verleen aan die weerloses, aan dié wat angstig of ge-isoleer voel. Terwyl ons dit doen, moet ons voldoen aan die sosiale maatreëls en protokols wat ingestel is om verdere infeksies te verhoed.
As plaaslike kerke dink julle reeds anders oor aanbiddingspraktyke, insluitend die bediening van die nagmaal, die oordra van vrede en om mekaar te groet op maniere wat ons gemeenskaplike lewensdoel weerspieël terwyl ons ook luister na die gesondheidsadvies van kundiges.
Die situasie verander vinnig. Bly daarom ingelig deur die amptelike gesondheidskanale van jou plaaslike regering of gebied. Jy sal in hierdie tyd ook vanuit kerklike kringe op hoogte gehou word deur briewe soos hierdie en Kerkbode by
Intussen het daar 'n oproep van president Cyril Ramaphosa gekom om deel te wees van 'n nasionale gebedsgeleentheid. Die tyd wat vir hierdie gebedsgeleentheid voorgestel word, is 26 Maart 2020 vanaf 18:00 tot 18:30. Die NG Kerk wil graag hieraan deelneem. 'n Beroep word gedoen dat elke gemeente, op watter manier ook al binne die voorgeskrewe maatreëls, daaraan sal meedoen.
Vir vandag se gebedsgeleentheid en vir die tyd vorentoe vra ons dat daar vir die volgende sake voorbidding gedoen sal word:
- ons regering, regeringsamptenare en personeel in departemente
- almal wat sal werk om noodsaaklike dienste te lewer - mediese en verwante beroepe, sekuriteitsektor, kleinhandelsektor, bankwese, vervoer, en so meer
- mense wat die virus opgedoen het en familie wat daardeur geraak word
- die armste van die armes en dié wat liggaamlik meer blootgestel is aan die virus.
Saam in Sy diens
Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
- Besonderhede
Hantering van die Coronavirus situasie
Die moderatuur het op 17 Maart 2020 oor die implikasies van die coronavirus gesels en is terdeë daarvan bewus dat elke konteks verskil, maar neem tog die vrymoedigheid om die onderstaande gedagtes met gemeentes te deel.
1. Ons wil graag die inisiatiewe van die regering ten volle ondersteun en moedig daarom gemeentes aan om die maatreëls wat die President Sondagaand aangekondig het, ernstig op te neem.
2. Die moderatuur aanvaar die terugvoer van kundiges wat meen dat die sukses wat tot dusver elders in die wêreld behaal is met die bekamping van die virus, grootliks saamgehang het met die mate waarin die samelewing gehelp het om kontak met mekaar te vermy.
3. In die lig van die moontlikheid dat die virus hoogs aansteeklik is, nog voordat enige simptome sigbaar is, steun die moderatuur die gedagte dat die vermyding van sosiale kontak nie in die eerste plek gaan oor die moontlikheid dat ek by iemand anders kan aansteek nie, maar die risiko dat ekself, onwetend, iemand anders kan aansteek.
4. Uit die voorafgaande blyk dit onafwendbaar dat gemeentes dit baie ernstig behoort te oorweeg om sover moontlik alle byeenkomste, insluitende eredienste, tot na die Paasnaweek te kanselleer. Die getal van 100 is immers nie 'n magiese getal wat aansteeklikheid bepaal nie, maar 'n oproep om sosiale verkeer tot die noodsaaklike te beperk.
5. Gemeentes word aangemoedig om vindingryke alternatiewe vir die erediens te ondersoek en dit op die Noordelike Sinode se Facebook-blad met mekaar te deel. Gemeentes wat nie in die posisie is om self materiaal te ontwikkel nie, kan ook met vrymoedigheid die Sinodehuis kontak vir verwysings.
6. Die moderatuur oordeel dat pastoraat in hierdie tyd van kardinale belang is. Die moderatuur het reeds verneem van die katastrofiese gevolge wat die huidige situasie vir o.a. die jagbedryf, toerisme, restaurante, landbou en klein besighede kan inhou. Waar besoeke nie moontlik is nie, kan telefoongesprekke, WhatsApp-kommunikasie en ander inisiatiewe 'n belangrike rol speel.
7. Gemeentes behoort in hierdie tyd spesiaal bewus te wees van bejaardes en ander kwesbares. Hulle kan dalk gehelp word om aankope te doen en indien nodig kan ook reëlings oor die voorsiening van kos getref word.
8. Die moderatuur oordeel dat daar ook 'n besondere sensitiwiteit behoort te wees vir die risiko's waaraan mense blootgestel word wat daagliks in busse of taxis werk toe pendel. Busse het dikwels 60 of meer passasiers. Gemeentes en ander werkgewers sou dit dus kon oorweeg om werkers tuis te laat bly, sonder dat dit hulle vergoeding raak.
9. Kom ons help mekaar deur:
* eerder meer, as minder met ons lidmate te kommunikeer,
* die mediese sorg in ons omgewing nie onnodig te belas nie,
* vals inligting te besweer en nie paniek-aankope te doen nie,
* nie met vrees te leef nie, maar eerder met ontferming en verantwoordelikheid, daar te wees vir mekaar.
10. Die onsekerheid wat met die huidige situasie gepaard gaan, stel enorme uitdagings aan almal van ons en daarom wil ons in hierdie dae ook spesiaal vir mekaar bid.
- Besonderhede
Die Camino in Spanje
Leon en Monique Tait (wie se seun, Stephan, outisties is) en drie vriende vertrek na Spanje op 19 September 2019 om die Camino te stap ten einde bewustheid van outisme te bevorder.
Lethabo le Khutso hou u graag op hoogte van die reisgeselskap se ervaringe en vordering. Volg ons op Facebook.
- Besonderhede