Pastoor en Prediker
Die prentjie wat dikwels van Calvyn geteken word, is dié van 'n geharde juris en teoloog vir wie die orde van die kerk en dogma alles was. Calvyn het egter ook 'n ander kant gehad - die van pastor en prediker. Dit laat sommige historici opmerk dat die hart van Calvyn se werk in Genève die beste sigbaar word in sy bediening vanaf die preekstoel.
Dit was veral na sy terugkeer na Genève in 1541 dat prediking een van sy belangrikste weeklikse aktiwiteite geword het. Vir hom was prediking die uitleg van die Skrif. Aanvanklik het hy twee keer op 'n Sondag en een keer op drie ander dae van die week gepreek. Later het hy twee keer op 'n Sondag en elke dag van die week in alternatiewe weke gepreek.
Sy gebruik was om op Sondae uit die Nuwe Testament en gedurende die week uit die Ou Testament te preek. Soms het hy ook op 'n Sondagmiddag tyd afgestaan aan die uitleg van die Psalms.
Calvyn het sonder notas gepreek en het veral twee belangrike temas van 'n Christen se lewe beklemtoon: die redding van mense deur die genade van God en gelowiges se roeping tot 'n lewe van dankbaarheid.
Deur sy pen het hy onder meer ook die geestelike mentor en pastor vir die Protestantse adel en baie van die leiers van die Reformasie in ander lande geword. Hoewel sy humeur en opvlieënde geaardheid uit van sy briewe duidelik word, dui die pastorale begeleiding daarin op 'n meer sagmoedige pastor.
Dat Calvyn veral aan die einde van sy lewe met sy gesondheid gesukkel het, is bekend. Hy vertel self van sy stryd met tuberkulose, jig, 'n swak maag en nierstene. Ten spyte van sy swak gesondheid, het hy onverpoosd gewerk.
Teen 1549 het hy reeds kommentare oor al die Pauliniese boeke van die Nuwe Testament geskryf en teen 1555 het hy kommentare oor al die ander boeke, uitsluitend Openbaring, voltooi. Te midde van verswakkende gesondheid het hy in 1558 finale wysigings aan die Latynse weergawe van sy groot passie, sy Institusie, aangebring.
Kort voor sy dood op 27 Mei 1564 skryf hy aan Farel: "Ek haal swaar asem en elke oomblik verwag ek dat dit dalk my laaste kan wees. Dit is genoeg dat ek leef en sterf vir Christus wie vir al sy volgelinge 'n wins in lewe en in sterwe is. Ek groet jou en al jou broers."
Johannes Calvyn is volgens sy wens in 'n ongemerkte graf begrawe.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Stad van God
Calvyn en die stad Genève het byna sinonieme met mekaar geword. Dit is daar waar Calvyn hom besig gehou het met 'n poging om 'n sigbaarder "Stad van God" in Europa te bou. In die proses was dit die plek waar Calvyn van sy belangrikste teologiese bydraes tot die Reformasie gemaak het, maar ook waar hy van sy donkerste oomblikke beleef het.
Nadat Calvyn in 1538 uit Genève moes vlug as gevolg van sy stryd met die Libertyne, het hy in 1540 'n dringende versoek van die stadsvaders ontvang om terug te keer. Teen sy eie wil, maar oortuig van die feit dat dit God is wat hom terugroep, het Calvyn op 4 September 1541 in Genève aangekom.
Die eerste saak waaraan Calvyn aandag gegee het, was 'n kerkorde. Die kerkorde wat Calvyn opgestel het, Ordonnances Ecclesiastiques, is op 20 November 1541 in die gemeente voorgelees en deur die kerkraad, die gemeente en die burgerlike owerheid aanvaar.
Die basiese vertrekpunt van Calvyn se kerkorde was die soewereiniteit van die kerk in geestelike sake.
Calvyn het vier ampte ge-identifiseer: ouderlinge, diakens, predikante en doktore. Elke gemeente moes 'n kerkraad hê wat verantwoordelik was om die gemeente volgens Bybelse riglyne te regeer en tug toe te pas.
Die kerkorde het dit ook duidelik gestel dat die burgerlike owerheid alles in sy vermoë moes doen om die kerk te ondersteun om haar roeping in die wêreld na te kom. In 1542 het die stadsraad van Genève die wette van die stad so verander dat dit in ooreenstemming was met Calvyn se kerkorde.
Alles was egter nie maanskyn en rose nie. Die jare 1543 tot 1553 was 'n tydperk van geweldige stryd in Genève. Een van die hoofrolspelers was die Spanjaard Michael Servetus.
Servetus het reeds in 1545 met Calvyn kontak gemaak en het gou bekend geword vir sy kritiek teen Calvyn se teologie. Nadat Calvyn 'n kopie van sy Institusie aan Servetus gestuur het, het Servetus dit, met kritiek in die kantlyne geskryf, teruggestuur.
Dit het Calvyn woedend aan Farel laat skryf dat as Servetus dit ooit sou waag om Genève te besoek, "hy hom nie sou toelaat om lewendig te vertrek nie." Hierdie woorde van Calvyn was nie 'n ydele dreigement nie. Nadat Servetus sy boek Christianismi Restitutio - Die herstel van die Christendom in 1553 gepubliseer het, het hy op pad na Italië in Genève aangedoen. Hy is gearresteer, is as ketter verhoor en het op 27 Oktober 1553 op die brandstapel gesterf.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Gemeente Boodskappe
Ons dank U Here vir die voorreg om ons kind te kon sien trou en om U genade al hoe meer te waardeer!
Ek is so dankbaar dat U my gehoor het in my benoudheid van die motorongeluk. U het my 'n tweede kans gegee. Joey
Dankie dat U ons seun sterk gemaak het om sonder ongewensde goed in sy lewe te kan leef.
Na drie jaar se wag het U ons kom verras met 'n wonderwerk uit U hand toe ons dit die minste verwag.
Dankie vir groot genade, liefde en onverdiende guns so mildelik ontvang dag na dag.
Dankie vir 'n nuwe gesonde kleinkind.
Dankie dat U my beskerm en omvou het gedurende my nagmerrie van "smash & grab". Vir al U liefde en dat U altyd daar is vir my. Ek loof U!!! Susan
Ek loof U waar U by my was met 'n noodoperasie vir retina-loslating. Elaine
Ek loof U vir die verlossing van my vrou se lyding. Die rykdom van U genade is groot!
Dankie dat U vir my kinders en kleinkinders voorsien het in hul nood vir werk, huisvesting en ander seëninge. Ons eer U!
Dankie vir nuwe werk!
Ek loof U vir oorplasing na Pretoria!
Here, ek loof U vir vertroosting, genade en geloofsgroei. U daaglikse bystand en sekerheid in hierdie deurmekaar wêreld. Dankie my Verlosser!
Here ek loof U vir genesing van my wederhelf!
2015/16 was hard. Vierkeer in hospitaal en drie operasies. Nou heeltemal gesond! Dankie Here! Lettie
Ek loof U vir die deure wat U toe en oopgemaak het voor U my dierbare man kom haal het. Vir vertroosting, moed .. en pad wat U gelyk maak ... Ook vir broers en susters in die geloof.
Here ek loof U want U het my vrou deur twee hartaanvalle ene bloedklont in long bewaar! Ook my dogter met brongitis. Dankie!
HERE ek loof U dat U altyd in beheer is van ons lewe! Niks kan ons van U liefde skei nie. Philip & Shirley
Dankie vir U liefde en U kosbare Woord!
Ek dank U vir elke genadegawe deur die jaar!
Dankie Heer vir goeie gesondheid en die liefde van al my kinders en familie.
Ek dank U vir al die "klein" dinge wat ons nie altyd "raaksien" nie bv. plante, reën, voëls, diere ens.
Ek loof U dat U my elke dag staande hou in my omstandighede!
Loof U vir die krag wat U elke dag aan ons gee!
Dankie vir reën en gesondheid! Alleen
Dankie getroue Here dat U al ons krankhede op U neem en dat U by ons bly tot in die ouderdom!
Dankie Here dat U ons gehelp het onder ons finansiële druk en ons staande gehou het.
Dankie vir gesondheid, pragtige kinders en kleinkinders asook goeie mense op my pad.
Here ek loof U vir U goedheid, 'n wonderlike seun en ma. Dankie dat U altyd voorsien en vergewe.
Here ons loof U vir goeie gesondheid, krag van Bo en genade. Wat ek ontvang het kom alles van U.
Ek loof U vir die genade elke dag. Vir beterskap in my gesondheid sodat ek kan aangaan in die lewe. Baie dankie Here!
Hierdie gemeente eer U as die Hoof en Here van U kerk! As gemeente gee ons U die eer vir U troue sorg oor baie jare heen. Ons dank U vir leraars, personeel, leiers en lidmate wat met hul gawes U gemeente dien. Ons is ook dankbaar vir elke omgeegroep waar mense omgee-liefde teenoor mekaar uitleef. Dankie vir die verskil wat U deur hierdie gemeente in die gemeenskap maak. Aan U alleen bring ons dank!
- Besonderhede