Maar Ek is in julle kring; soos die een wat dien. Lukas 22: 27.
In die Bybel word daar nie slegs na God se volk verwys as sy kinders nie, maar ook as sy dienaars. Paulus begin sy briewe aan die Romeine, die Filippense en sy vriend Titus op die volgende wyse: "Paulus, 'n dienaar …" Elke Christen is 'n dienaar van God en soos die term aandui, werk dienaars. Paulus beskryf sy diens aan God in Kolossense 1: 29 met dié woorde: Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk. Ons is gered om te dien - en as ons nie dien nie, dan oefen ons nie om toegewyde Christene te wees nie. God vra dat ons tyd, ons besittings en ons talente tot sy eer gebruik moet word. Vir lees en nadenke, Lukas 22: 7 - 38.
Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was… Johannes 13: 5.
Ons talente is nie slegs aan ons gegee om te geniet nie, maar sodat ons ander ook kan dien. Nie elke handeling wat as 'n dissipline beoefen kan word hoef as 'n dissipline beoefen te word nie. Soms kan iemand gedien word deur slegs liefde aan die persoon te bewys. Sonder om ag te slaan op hoe dit my vermoëns mag versterk om Christus te volg. Daar is sekerlik niks daarmee verkeerd nie en dit mag my geestelik versterk. Ek kan ook ander dien sodat ek wegbeweeg van verwaandheid, besitlikheid, afguns, haatdraendheid of gierigheid. In daardie geval word my diens onderneem as 'n dissipline van die geestelike lewe. Vir lees en nadenke, Johannes 13: 1 - 17.
In Oktober. is ons gebedsfokus op die Hindoegeloof. Ons vra die Here om ons harte oop te maak en in te tree vir die redding van Hindoes sodat nie een verlore sal gaan nie (2 Petrus 3: 9).
Daar is aspekte van die Hindoegeloof wat baie soos die Christelike geloof klink, maar dit is beslis nie dieselfde nie. Die Christelike geloof is die enigste geloof waar een Persoon gekom het en Sy lewe gegee het sodat ons almal daardeur die ewige lewe as VRYE geskenk kan ontvang. Die meeste godsdienste vereis dat mense die gode sal paai en goeie werke gedoen moet word om mag, geld, guns en "saligheid" te verkry. Bid dat God jou die gawe van voorbidding en empatie sal gee om spesifiek vir die Hindoes in Suid Afrika te bid. Vra dat die kerk pertinent bewus sal word van die dringendheid van die tye en seisoene en dat vele sal uitgaan in die oesland van die wêreld en hulle lewens in belang van die koninkryk sal gee vir dié wat in duisternis lewe.
Gemeentelede se dankoffers vorm die basis van die Gemeente se inkomste. Die groter doelgerigtheid om ons roeping as Kerk uit te leef, hou groter finansiële verpligtinge in. Daarby ondervind the Gemeente die probleem van steeds stygende kostes soos salarisse, munisipale heffings, onderhoud aan eiendom en administrasie soos telefoonkoste, drukwerk en skryfbehoeftes.
'n Vriendelike, dog dringende, versoek word dus aan elke lidmaat gerig om asseblief weer biddend te gaan besin oor u 10de Maand Dankoffer. Baie dankie vir die wyse waarop u tot nou toe 'n bydrae gelewer het om die Gemeente in staat te stel om ons Hemelse Vader se Koninkryk te dien.
10de Maand Dankofferkoeverte is te kry by die MI Toonbank of by u Dienswerker.