Die bediening van Sending Sonder Grense
Die bediening van Sending Sonder Grense is primêr om geestelike, opvoedkundige, emosionele en materiële (G.O.E.M.) bystand te verleen en wel deur die volgende programme en projekte, naamlik:
Kinderredding Internasionaal(KRI) en Kinder Herstelhuise
Bystand aan hierdie kinders deur middel van borgskap teen R160 per maand. Borge ontvang jaarliks nuwe inligting en fotos van hùlle kind en kan briefies stuur.
Gesin-tot-Gesinprogram
Bystand aan behoeftige gesinne deur middel van borgskap @ R150pm (dis genoeg om 'n kwart van die behoeftes van 'n gesin aan te spreek).
Gemeenskapsentrums
Sending Sonder Grense versterk deur middel van vennootskappe plaaslike gemeentes in hulle uitreiking na hulpbehoewendes in hulle gemeenskap. Nie alleen materiële en emosionele sorg nie, maar ook deur middel van die Evangelie.
Kinder- en Moedersorgprojek
Sending Sonder Grense staan jong, verwagtende moeders by tydens die swangerskap tot na die geboorte. Gestremde en mishandelde kinders, straatkinders en kinders in tronke word ook bygestaan.
Gesinsorgprojek
Met hierdie projek help ons op 'n voortdurende basis gesinne wat in 'n krisis is. Hulle word ook gehelp deur projekte (Operasie Kersliefde en Operasie Winterredding) en ons mediese klinieke.
Christelike Uitreiking
Elke program en projek is 'n uitreiking in reaksie op die bevel in Mattheüs 28: 19:
- Verskaffing en verspreiding van Bybels en Christelike literatuur;
- Bybelkorrespondensiekursusse;
- Christelike Insetklasse (Sondagskool) in die kinderhuise waar ons werksaam is.
Die sending se werkswyse
Die Sending se werkswyse is om die inheemse mense van die lande te gebruik deur hulle te bemagtig sodat hulle hul eie mense met die Evangelie kan bereik. Deur dit te doen erken ons die waardigheid van die individu en help om kapasiteit tot selfversorging te ontwikkel. Ons gebruik die infrastruktuur wat oor baie jare heen gevestig is om ons bediening in hierdie lande te vergemaklik soos byvoorbeeld 'n sendingsentrum in elke land, mediese klinieke in Albanië, en sopkombuise in samewerking met plaaslike gemeentes in Bosnië, Oekraïene en Bulgarye.
Ons internasionale en geaffilieerde operasies word op 'n jaarlikse basis deur onafhanklike ouditeure geoudit. Die Suid-Afrikaanse ouditeurs is Anderson, Rochussen, Van der Bijl Ingelyfde Geoktrooieerde Rekenmeesters (SA). Ons administratiewe onkostes beloop slegs n klein persentasie van ons totale inkomste (4.33% in 2008).
- Besonderhede
Ons betrokkenheid as gemeente by Sending Sonder Grense
Deur Sending Sonder Grense word heelwat kinders in Oekraïene en Moldawië deur lidmate van ons gemeente geborg. Daar word gereeld by ander gemeentes namens Sending Sonder Grense aanbiedings en preke gedoen oor Sending Sonder Grense se werk en om borge vir kinders/families te werf. Groot dank aan almal wat so getrou vir hierdie bedieningswerk bid.
Vanjaar is dit 20 jaar terug dat kommunisme tot in val gekom het en die Berlynse muur letterlik afgebreek is. Ongelukkig het kommunisme 'n slegte nalatenskap: bankrot regerings, erge armoede, geweldige maatskaplike probleme, en oorvol kinderhuise (bv. in Oekraïene is daar 300 kinderhuise, en in Roemenië is daar 630).
Daar word tans gepoog om elke maand vir 20 kinders in kinderhuise borge te kry teen R160 per maand. Dit is genoeg om in hierdie oud-Russiese lande letterlik vir alle basiese lewensmiddele wat 'n kind nodig het, te betaal, asook in hul geestelike, opvoedkundige en emosionele behoeftes te voorsien.
Die Here is uiters getrou! Orals waar SSG se werk in gemeentes bekendgemaak word, raak Hy lidmate se harte aan om maar nie net vir hierdie saak te bid nie, maar om ook self kinders te borg. Party verkies om eerder 'n bydrae tot die Cernoleuca kinderhuis in Moldawië te maak (dit beteken 'n verskil in 75 kinders se lewens), en ander verkies om eerder 'n gesin te help borg om sodoende te keer dat daardie gesin se kinders in die kinderhuis beland.
Hou asseblief aan om die Here te dank vir sy seën op hierdie bediening, en bly bid vir nuwe geleenthede vir preke en aanbiedings tydens eredienste.
- Besonderhede
- Besonderhede