Ongetwyfeld het ons elkeen al deurgeloop onder 'n ander se skerp tong, of liefdelose optrede. Maar die teendeel is ongelukkig ook 'n werklikheid. Ons staan self meer agter die deur as wat ons graag sou wou erken.
Hoe kan ons as gemeente wat vir Christus en ander omgee die slegte gewoonte afleer?
- Deur voor God te erken en te bely dat ons skuldig is;
- Ons boetie/sussie in die geloof in die oë te kyk en dit reg te stel;
- Daarna te strewe om te wil verander en meer sensitief vir die Heilige Gees te wees sodat ons meer bewus daarvan sal wees wanneer ons wel in die strik trap.
Indien ons enigsins twyfel of ons enige waarde hieraan hoef te heg, kan ons net vir 'n wyle 'n terugblik neem na 'n oomblik waar ons miskien die slagoffer was van 'n skinderstorie. Herroep weer die vernedering en seer wat daarmee gepaard gegaan het toe die storie met 'n draai wel by ons uitgekom het. Dit behoort dit vir ons makliker te maak om onsself in 'n ander se skoene te plaas volgende keer wat ons onsself weer aan die slegte gewoonte wil skuldig maak. Ons ken nie 'n ander se hart of omstandighede om die daad enigsins te regverdig nie. Jesus Christus se liefde vir alle mense behoort ons finaal te kan oortuig.
Dit is ook natuurlik vanselfsprekend dat hierdie vrot appel wat ons "skinder" noem geensins in ons omgeegroepe tuis hoort nie. Inteendeel, dit is juis waar 'n veilige plekkie geskep moet word om mekaar te kan vertrou. Wat 'n heerlike gedagte om te WEET dat ons mede-christene het waarop ons kan vertrou. As bonus, kan ons nogal op elkeen staatmaak deurdat ons nooit bekommerd hoef te wees dat ons mekaar so onnodig sal of wil seermaak nie.
'n Bemoedigende woord aan die van ons wat wel daaraan skuldig is - vergewe jouself en slaan 'n nuwe blaadjie om. Aan diegene van ons wat aan die ontvang-kant was - ons kan die persoon vergewe wat ons seergemaak het sodat ons met vrede in ons gemoed kan aanbeweeg.
Alles wat ons kan seermaak, kan ook van ons 'n beter mens maak.
- Besonderhede
Eis baie van jouself en verwag min van ander
Elsie stap heel vriendelik by haar werk in. Begin almal wat sy teëkom voorbeeldig te groet. Maar nog voordat sy by haar lessenaar kom voel sy sommer hoe 'n woede in haar begin opstoot. Sannie kom van voor af aangedrentel - haar aartsvyand op hierdie vloer van die gebou. Om dinge nog meer te kompliseer, is die vroumens se werkstasie reg langs Elsie s'n. Haar dag is nou sommer opgevoeter!
Klink dit miskien bekend? Natuurlik! Almal kom tog nie ewe goed klaar nie. Persoonlikhede bots en as 'n mens nie met die regte gesindheid die situasies hanteer nie, kan dit jou hele dag bederf - jou goeie voornemens is vanselfsprekend by die venster uit!
Hoe skakel die insident by omgeegroepe in? Daar is altyd 'n Elsie (dalk 'n bietjie liggeraak), Sannie (dalk 'n bietjie hardkoppig) en nog boonop 'n Pietie wat dalk 'n bietjie langdradig is in jou omgeegroep. Pietie trek nog by die bure se kat wat oor sy muur gespring het dan weet Grietjie al laaaaankal dat Pietie se hond die kat gaan jaag en die gort is dan gaar en, en, en ..
Daarom verwys ons graag, onder andere, na ons omgeegroepe as ons "oefen veld". Ons leer om vir mekaar om te gee, geduld met mekaar te hê en regtig mekaar te leer ken sodat daardie ou klein probleempies later glad nie eers meer saak maak nie.
Hoe kry ons dit reg?
Deur met "Jesus-oë" na ons mede boeties en sussies wat langs of oorkant ons sit te kyk. Ons gesindheid teenoor ons medemens begin te verander namate ons geestelik groei. Sodoende begin dit wyer uit te kring na ons huise en werksplekke. Ons verhoudings met ons familie, vriende, ens, begin te verbeter, want ons oefen mos elke week daaraan. Niks kom maklik nie, dit kos oefening!
Eis baie van jouself en verwag min van ander, dan sal jy nie so dikwels teleurgestel word nie.
- Besonderhede
Elkeen van ons is uniek en ons het mekaar nodig
Tydsaam stap ek in 'n christelike boekwinkel tussen die rakke deur en bekyk vlugtig die verskeidenheid leesstof beskikbaar. Skielik steek ek vas - die titel van 'n boek het my aandag getrek "Have a New Teenager by Friday". Nou kyk!! As 'n ding te goed klink om waar te wees, is dit heelwaarskynlik presies so. Net daar en dan besluit ek om aan te beweeg en my geld veilig in my beursie te stoor.
Aan die anderkant hoekom sal ek my tiener wil verander wat eintlik so uniek is.
Die voorval het my laat dink aan kind van die Here wees. Bitter graag sou ek 'n "kitsoplossing" wou hê om teen "Vrydag" die perfekte kind van Christus te wees. Die werklikheid is dat dit 'n lewenslange proses is. Dit verg iets van my om 'n verhouding met Jesus te hê. Om daagliks met Hom te kan wandel en om myself aan my medemens beskikbaar te stel.
Dit bring my by die punt van Omgeegroepe, die hartklop van ons gemeente. Dit is waar oefenruimte geskep word vir geestelike groei, mekaar bedien, gawes ontdek en uitgeleef word. Die plek waar die fokus van myself 'n bietjie kan verskuif word na die behoeftes van 'n ander.
My uitdaging aan elkeen wat nog nie betrokke geraak het nie, om dit werklik 'n saak van gebed te maak, die wilsbesluit te neem om in te skakel en deel te wees van die groot prentjie van "Die Gemeente wat vir almal OMGEE" en ook dat Christus Eerste! in ons lewens is.
Elkeen van ons is UNIEK en ons het mekaar nodig om werklik dissipels van Jesus te wees!
- Besonderhede