Terugvoer van Jakaranda Huis 4
Jakaranda Kinderhuis - Huis 4
Goeie dag almal
Ons wou al lankal 'n briefie tik, maar ek moet sê die eerste 2 maande hier by Huis 4 was nogal besig. Dinge lyk my begin darem nou meer 'n roetine vorm so ek en Ben het dit goed gedink om op 'n meer gereelde basis so 'n opdatering van wat hier gebeur aan te stuur.
Dinge is definitief aan die verbeter. Ons het paar veranderinge ondergaan en hard gewerk om die huis lekker te maak vir almal, maar daar is nog baie harde werk wat voorlê. Ek kan alreeds baie dankie sê vir elkeen wat ons al so ondersteun het met tyd, raad, gebede en bydraes. Daar is nie 'n manier dat ons hierdie pragtige kinders wat God aan ons toevertrou het 'n tuiste voor kan skep andersins nie.
Ons het al 'n lekker braai of twee gehou, gaan fliek met die "gang" wat gewen het vir netheid en werk daagliks daaraan om die huis al mooier te kry. Dissipline en liefde is natuurlik bo aan die lys en neem baie tyd en energie elke dag.
Vir Maart beplan ons twee tuinbou dae wat Michael van Rietfontein-Suid gemeente vir ons reël. Ek wil ook nog meer aandag aan skoolwerk bestee, want ons het wonderlike talentvolle seuns wat net die ondersteuning nodig het om uit te styg na ongelooflike hoogtes.
Ons onmiddellike behoeftes is natuurlik altyd eerste gebed en nogmaals gebed. Ons staan meestal verdwaas met God se onbeskryflike genade. Ons is ook bly dat ons 'n wonderlike maatskaplike werker, naamlik Marna gekry het om mee saam te werk. Haar liefde en opoffering vir die kinders is enorm en ook sy het baie gebed en bystand nodig.
Ons donateur vir vleis is weggeneem so ons benodig mense wat bereid is om maandeliks vir spesifiek vleis by te dra. Joe, die seuns eet baie! Veral na hulle aktief met sport besig was. Rudie by Dia Gloria slaghuis onderneem om ons uitstekende pryse te gee vir hul baie goeie gehalte vleis, so ons beplan om by hulle 'n debiet rekening oop te maak.
En dan is daar altyd skoolaktiwiteite, uitstappies, sportklere, tokse ens. wat die kinders nodig het. Ons wil nie graag hê dat hulle uitverloor op sulke geleenthede nie. Dankie, ook vir die kere wat julle hier help!
Op lang termyn beplan ons 'n braai te bou en ook die stoep uit te bou met 'n dak oor. Daar wil ons 'n lekker leef en speel area vir die kinders maak met 'n pool tafel, veerpyltjies ens.
Dit is dan eers al vir nou. Bid asseblief ook vir ons gesin. Dat die aanslae wat deur elke seun in die huis inkom afgebid kan word. Ons het baie genade, geduld, wysheid en energie nodig.
Jesus seën jou en jou gesin.
Ben en Christien Viljoen