Wittenberg 2017: 'n Ou droom herontdek
"Vandag is 'n historiese dag," het prof Jerry Pillay, vorige president van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde kerke op 5 Julie in Wittenberg, Duitsland tydens die vergadering van die liggaam gesê. Hy het verwys na die ondertekening van 'n gesamentlike ekumeniese verklaring deur Katolieke, Metodiste en Lutherane wat daarop gerig is om die 500 jaar oue geskille tussen die protestante en die Katolieke wat uit die era van die Reformasie dateer, te oorbrug.
Die belang van die ondertekening is later verder bevestig deur ds Najla Kassab van Libanon, die nuutverkose president van die Wêreldgemeenskap, toe sy gesê het: "Vandag teken ons nie net 'n gesamentlike verklaring nie – ons bou 'n kerk saam."
Die belang van die gebeure is verder onderstreep deur 'n brief van Pous Franciskus wat deur biskop Farrell voorgelees is. Hy het onder meer geskryf dat die ondertekening simbolies is van die verbintenis om as broers en susters in Christus die pad saam te loop op 'n reis van konflik na gemeenskap en van verdeeldheid na versoening."
Hierdie uitsprake maak dit duidelik dat die droom oor groter eenheid in die kerk na 500 jaar dalk weer herontdek is, want hierdie versugting na eenheid in die kerk is niks nuuts nie. In 1552 het Calvyn aan Thomas Cranmer geskryf dat "die liggaam van Christus lê en bloei" en dat hy meer as gewillig sou wees om tien oseane oor te steek om die eenheid van die kerk te probeer herstel.
Alhoewel Wittenberg 2017 dalk baie ver van ons hier aan die suidpunt van Afrika is en ons intens met belangrike sake soos werkloosheid, korrupsie en armoede worstel, moet dit ons tog herinner aan die feit dat die eenheid van die kerk onherroeplik deel van ons getuienis aan die buitewêreld is. Hierdie feit word bevestig deur die toespraak van mnr Nelson Mandela voor die Algemene Sinode van 1994. As nuutverkose president en nie-lidmaat het hy die NG Kerk uitgedaag tot versoening, tot die bekamping van armoede en tot kerkeenheid.
Wittenberg konfronteer ons met die vraag of ons soos Calvyn bereid sou wees om tien oseane oor te steek ter wille van die eenheid van die kerk? Moenie vrees nie – dis waarskynlik nie nodig nie – dalk hoef jy slegs 'n pad oor te steek of na 'n naburige woongebied te ry om kontak te maak om deel van die herontdekte droom van Wittenberg 2017 te word!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
En die regte kerklike leiers vind ons …
Iemand skryf onlangs dat die kerk nuwe leiers nodig het. Tye het so dramaties verander dat die "ou" manier van doen gewoon net nie meer werk nie. Daarmee het hy een van die mees kontensieuse sake in die kerklike wêreld op die tafel geplaas.
Van die heel begin af deur die vroeë kerk tot in die Middeleeue het kerklike leiers en die stryd om leierskap gedreig om die kerk lam te lê. Die rigting waarin sake beweeg het word weerspieël in 'n aanhaling van Ambrosius van Milaan wat gesê het: "Niks op hierdie aarde is meer verhewe as priesters of edeler as biskoppe nie."
Waarskynlik het leierskap in die kerk 'n laagtepunt bereik met die sogenaamde Groot Skeuring in 1381. Selfs met die beste bestuur ter wêreld kon die pousdom nie die verdeeldheid in eie geledere heel nie. Met 'n pous in Frankryk (Clemens VII) en 'n pous in Rome (Urbanus VI) het dit selfs op gewapende botsings tussen die twee kerkleiers uitgeloop.
Beide van hulle het geweier om 'n konsilie in Pisa in 1409 by te woon waarop die kardinale albei afgesit het en 'n nuwe pous, Alexander V in hulle plek gekies het. Geeneen van die ander pouse het hom egter erken nie, wat die kerk met die belaglike situasie van drie pouse gelaat het. Hierdie situasie sou tot 1417 met die Konsilie van Konstantz voortduur toe Marthinus V as enigste pous aangewys is.
Dit is daarom nie vreemd dat leierskap in die kerk een van die vernaamste redes vir die Reformasie was nie. Die rol van die pous en die gesag van die pous was een van die belangrike temas in Luther se 95 stellinge. Met die skryf van sy Kerkorde in Genève het Calvyn ook duidelik uitgespel hoe kerklike leierskap moet funksioneer.
Hoe sou die Reformasie van 500 jaar gelede ons dan help met nuwe kerklike leiers? Ons sou dit soos volg kon saamvat:
- Christus is hoof van sy Kerk. Dit is waar die hoogste gesag gesetel is.
- Hy regeer sy kerk deur sy Woord en sy Gees.
- Daarvoor gebruik Hy die ampte – mense wat deur Hom geroep en toegerus is vir die taak van leierskap in die kerk.
- Kerklike besluite word geneem in vergaderings waar die geroepenes saamkom in die naam van Jesus Christus onder leiding van sy Gees op grond van sy Woord.
Miskien het ons nodig om weer ernstig oor hierdie sake te besin. Doen ons dit, kan ons ophou soek vir nuwe leiers. Die Hoof van die kerk sal die regte leiers vir die regte tyd as 'n gawe aan sy kerk gee.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Uitspraak oor Godsdiens op Skole
Die afgelope week of twee het die kerk kennis geneem van die CRL se reaksie op onder meer die NG Kerk se kommentaar op die regulering van godsdiens. Die NG Kerk het reeds daarop gereageer en 'n artikel in Rapport van 2 Julie het berig dat die regulering van godsdiens baie sterk teengestaan sal word. Die NG Kerk se reaksie doen 'n baie sterk beroep op die vryheid van godsdiens soos in die Grondwet verskans. Die hofuitspraak rondom godsdiens op skole is ook bekendgemaak. Ek deel graag met jou 'n perspektief of twee op hierdie uitspraak.
Uitspraak oor Godsdiens op Skole
In die media is daar die afgelope week kennis geneem van 'n belangrike hofuitspraak in die Suid-Gautengse Hooggeregshof oor godsdiens in skole. Uitspraak is gelewer deur regter Willem van der Linde in die saak OGOD (Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie) versus ses skole. Die beheerliggame van hierdie ses skole is almal lid van FEDSAS, wat die skole in die hofsaak bygestaan het. Dié belangrike toetssaak het sy oorsprong in 2014 toe die applikant OGOD die hof versoek het om dit ongrondwetlik te verklaar dat sekere godsdienspraktyke in skole voorkeur bo ander geniet.
Die hof het sy ondersoek op drie vrae gerig. Die eerste het betrekking op sy bevindings of 'n skool 'n spesifieke godsdiens ten koste van ander kan bevorder. Die tweede saak aan die orde was of 'n openbare skool self godsdiensbeoefening kan uitvoer en of dit slegs deur buitepartye op die skole se perseel gedoen mag word. Die derde vraag was of leerders gevra kan word met watter geloof, indien enige, hulle hulle vereenselwig. Die tweede en derde vraag is albei in die skole se guns beantwoord.
Berigte in die media interpreteer die uitspraak wat gelewer is as 'n oorwinning vir OGOD. So 'n interpretasie verteenwoordig egter nie die inhoud van die hofuitspraak behoorlik nie. OGOD se hofaansoek het 77 bevele teen ses skole aangevra en slegs twee van hierdie bevele is toegestaan. Die hofuitspraak bevestig in werklikheid die feit dat 'n openbare skool behoort aan die onmiddellike gemeenskap waarbinne die skool geleë is. Dit bevestig dat die skool se beheerliggaam verteenwoordigend van die breër skoolgemeenskap is en dat hulle ooreenkomstig die Grondwet (Artikel 15b) en die Skolewet (Artikel 7) die gesag het om besluite te neem ten opsigte van belangrike aspekte soos 'n skool se taal- en toelatingsbeleid en hoe godsdiens by die skool beoefen word. Dié belangrike aspek van die gesag van 'n skool se beheerliggaam as liggaam wat 'n skool namens die onmiddellike skoolgemeenskap bestuur, word deurentyd in die uitspraak bevestig. Die hof bevestig verder dat die Nasionale Beleid oor Godsdiens en Onderwys nie afdwingbare reëls daarstel nie, maar eerder 'n belangrike dokument is wat riglyne oor godsdiens in onderwys verskaf.
Die Applikant mag nie die gedrag van die skole teen die Grondwet of teen die Skolewet uitdaag nie; dit mag dit net uitoefen teen die skool se eie reëls vir die uitvoering van godsdienstige oefeninge. 'n Openbare skool mag nie die nakoming van 'n enkele godsdiens bevorder nie. Die maak van beleid ten opsigte van die gedrag van godsdiensbeoefening by 'n skool bly egter die reg en verantwoordelikheid van elke individuele skool se beheerraad. Die skool sal wettig optree solank sy godsdienstige nakoming met reëls van sy beheerraad ooreenstem.
Die NG Kerk het nog altyd van die standpunt uitgegaan dat die Godsdiensbeleid en -beoefening by openbare skole op 'n billike, gelyke en vrywillige grondslag geskied. Hierdie beginsel word baie duidelik verwoord in die Skolewet na aanleiding van die Grondwet. Die NG Kerk was van die begin af ten gunste van vrywillige godsdiensbeoefening. Vanuit 'n kerklike oogpunt gesien, is daar dus geen spanning ten opsigte van die uitspraak nie.
FEDSAS het die totale verwydering van enige vorm van godsdiensbeoefening vanaf die skoolterrein teengestaan. Die Suid-Afrikaanse Grondwet is nie soortgelyk aan die Amerikaanse model van 'n waterdigte skeiding tussen kerk en staat nie, maar lê klem op verdraagsaamheid en diversiteit. Hierdeur het die hof die plek van godsdiens in die publieke sfeer bevestig.
Dit is die mening van regskenners dat die hof se motivering vir die toekenning van deeltydse verligting aan die applikant verrassend dun is. FEDSAS het reeds te kenne gegee dat die uitspraak bestudeer sal word en dat verdere regsprosesse nie uitgesluit is nie.
Vriendelike groete uit Leipzig
Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
- Besonderhede