Leef onder God se reënboog in 2024
Die Here het vir jou 'n veel beter en heerliker 2024 in gedagte as wat jy ooit kan droom! As ons Spreuke 3 lees sien ons dat God vir ons 'n vol lewe(v2) en 'n lewe van geluk, tevredenheid en seën (v 17,18), wil gee! God nooi ons om onder Sy wysheidplan of wysheidreënboog van seën te leef.
Kom ons kyk na 5 fassette (kleure) van God se seën-reënboog:
- Fokus op die liefde (v3-4)
Met die woorde: moenie tekort skiet aan liefde en trou nie, wil die Spreukedigter ons herinner aan die belangrikheid van toegewyde liefde of verhoudinge. Wanneer ons op verhoudinge fokus, wag daar vir ons volgens God se wysheidplan vir ons heerlike seën. Ons Skepper en Here het dit so bedoel. Wanneer ons ons verhouding met God en met ander koester as iets uiters waardevols, dan sal ons die seënvrug daarvan pluk. Verhoudinge is jou beste belegging in 2024.
- Vertrou God met alles (v5-6)
Om God elke dag met alles te vertrou, beteken dat ons na Sy wil sal vra en soek wanneer dit by selfs die kleinste detail van ons lewe kom. Nie net vir groot en gewigtige sake het ons God se lig en leiding nodig nie. Die belofte is ook in hierdie verse dat God verseker vir ons die regte pad sal wys. Gelukkig het God aan ons Sy Woord kom gee propvol van Sy wyse leiding en helder lig. Verder het Jesus vir ons kom wys hoe God se pad en wil prakties lyk in die lewe van elke dag. Volg Sy voetspore en jy sal weet wat God se seënvolle wil in alles is.
- Beveg selfoorskatting (v7-8)
Die meeste van ons kan so maklik onsself oorskat deur te dink of doen asof ons alles weet en onbeperkte vermoëns het. Die waarheid is egter: ons kan nie alles doen nie; ons weet nie alles nie; ons kan nie vir alles ja sê en ons program net voller prop nie; ons kan nie almal tevrede stel nie; ons kan nie alles beheer nie en ons kan verseker nie alles vir almal wees nie. Ons moet ons eie menslike beperkinge ken. Ons is nie God nie! Daarom is Psalm 46:11 so helend: bedaar (wees stil) en weet Ek is die Here...Ons kan gerus ophou God probeer speel en ontspan! Ken jou plek en jouself. Die gevolg is: dit sal jou gesond hou en jou lewenskrag vermeerder.
- Aanvaar wanneer God jou reghelp (v11-12)
Die Here gaan verseker sekere van die gebeure in 2024 gebruik om ons reg te help en te dissiplineer sodat ons weer in pas met Sy seënvolle wil vir ons lewe sal kom. Wees oop en ontvanklik daarvoor! Gee ag daarop en neem hierdie liefdeswerking van 'n liefdevolle Pa ter harte.
- Help ander (v27-28)
Moenie wag om goed te doen vir iemand wat dit nodig het nie. God gaan gereeld gedurende 2024 oor ons pad, mense stuur wat hulp nodig het! Elkeen van hierdie goeddoen-geleenthede is geleenthede van seën. Wyse mense van God is op die uitkyk en sensitief vir hierdie geleenthede om goed te doen. Die beste kommentaar op hierdie woorde is die spreukedigter self: wie medelye het met ’n mens in nood, met hom gaan dit goed (14:21).