Die Sending Sonder Grense bediening
Die bediening van Sending Sonder Grense
Die bediening van Sending Sonder Grense is primêr om geestelike, opvoedkundige, emosionele en materiële (G.O.E.M.) bystand te verleen en wel deur die volgende programme en projekte, naamlik:
Kinderredding Internasionaal(KRI) en Kinder Herstelhuise
Bystand aan hierdie kinders deur middel van borgskap teen R160 per maand. Borge ontvang jaarliks nuwe inligting en fotos van hùlle kind en kan briefies stuur.
Gesin-tot-Gesinprogram
Bystand aan behoeftige gesinne deur middel van borgskap @ R150pm (dis genoeg om 'n kwart van die behoeftes van 'n gesin aan te spreek).
Gemeenskapsentrums
Sending Sonder Grense versterk deur middel van vennootskappe plaaslike gemeentes in hulle uitreiking na hulpbehoewendes in hulle gemeenskap. Nie alleen materiële en emosionele sorg nie, maar ook deur middel van die Evangelie.
Kinder- en Moedersorgprojek
Sending Sonder Grense staan jong, verwagtende moeders by tydens die swangerskap tot na die geboorte. Gestremde en mishandelde kinders, straatkinders en kinders in tronke word ook bygestaan.
Gesinsorgprojek
Met hierdie projek help ons op 'n voortdurende basis gesinne wat in 'n krisis is. Hulle word ook gehelp deur projekte (Operasie Kersliefde en Operasie Winterredding) en ons mediese klinieke.
Christelike Uitreiking
Elke program en projek is 'n uitreiking in reaksie op die bevel in Mattheüs 28: 19:
- Verskaffing en verspreiding van Bybels en Christelike literatuur;
- Bybelkorrespondensiekursusse;
- Christelike Insetklasse (Sondagskool) in die kinderhuise waar ons werksaam is.
Die sending se werkswyse
Die Sending se werkswyse is om die inheemse mense van die lande te gebruik deur hulle te bemagtig sodat hulle hul eie mense met die Evangelie kan bereik. Deur dit te doen erken ons die waardigheid van die individu en help om kapasiteit tot selfversorging te ontwikkel. Ons gebruik die infrastruktuur wat oor baie jare heen gevestig is om ons bediening in hierdie lande te vergemaklik soos byvoorbeeld 'n sendingsentrum in elke land, mediese klinieke in Albanië, en sopkombuise in samewerking met plaaslike gemeentes in Bosnië, Oekraïene en Bulgarye.
Ons internasionale en geaffilieerde operasies word op 'n jaarlikse basis deur onafhanklike ouditeure geoudit. Die Suid-Afrikaanse ouditeurs is Anderson, Rochussen, Van der Bijl Ingelyfde Geoktrooieerde Rekenmeesters (SA). Ons administratiewe onkostes beloop slegs n klein persentasie van ons totale inkomste (4.33% in 2008).