Die werking van die Heilige Gees
Uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster
Op Pinkstersondag 2000 jaar gelede is die Heilige Gees op die kerk uitgestort. Baie keer deur die eeue het die kerk egter stagneer en die werking van die Heilige Gees weerstaan. Dan het God, in Sy genade, weer Sy Gees opnuut op die kerk kom uitstort. Van hierdie herdoping sien ons byvoorbeeld in Handelinge 4: 29 - 31, 10: 44 - 47 en 11: 15.
Martyn Lloyd-Jones het gesê dat wanneer mens die boek Galasiërs en 1 Korinthiërs 12 - 14 met aandag lees, dit duidelik is dat daardie kerke 'n buitegewone werking van die Heilige Gees in hulle midde beleef het. Oor die eeue heen het dit ook herhaalde kere in plaaslike kerke, streke en nasies, en ook wêreldwyd gebeur.
Laat ons dan bid vir die buitengewone werking van die Heilige Gees binne-in die wêreldwye kerk. Sonder 'n nuwe en kragtige werking van die Gees sal die kerk kragteloos bly en nie daartoe in staat wees om sy werk te doen nie.