Laat ons uit volle bors sing
In die Gereformeerde tradisie is kerkwees, musiek en sang byna sinoniem met mekaar. Heel dikwels word gemeentes in ons dag "gemeet" aan die sang en musiek van die gemeente.
Hoewel sang en musiek deur die eeue baie verander het en daar ook vandag wesenlike verskille bestaan oor die tipe musiek wat in gereformeerde kerke gebruik word, is die belang van musiek onontkenbaar. Dit was een van die grootste bydraes van die Reformasie.
Luther was 'n groot voorstander van musiek. In 'n brief aan Ludwig Senfl skryf hy: "Ek is nie skaam om openlik te bely dat daar naas teologie geen ander kunsvorm bestaan wat met musiek vergelyk kan word nie. Musiek alleen, kan naas teologie die siel van die mens laat stil word of opbeur. Dit is duidelik dat die duiwel, wat die argitek van neerdrukkende bekommernisse en negatiewe gedagtes is, van die klanke van musiek wegvlug net soos wat hy vlug van die woorde van teologie."
Luther het nie net oor die belang van musiek gepraat nie. As gevolg van sy eie sangvernuf het hy die bynaam "die Wittenbergse nagtegaal" gekry.
Dit is daarom nie vreemd dat Luther die belang van musiek in eredienste verstaan het nie. In 1523 het hy begin om liedere vir 'n liedboek te versamel wat in 1524 gepubliseer is. Onder Luther se leiding het gereformeerde gemeentes begin deelneem aan gemeentesang en het sang en musiek integraal deel van die erediens geword.
Koorsang was altyd vir Luther belangrik, maar 'n gemeente wat sing, was vir hom hemels. In 1528 het hy die beroemde lied 'n Vaste burg is ons God geskryf – 'n lied waarvan ons die eggo's steeds 500 jaar later hard en duidelik hoor.
Dit maak nie saak wat jy van Luther dink of hoe jy sy werk beoordeel nie – een feit staan soos ’n paal bo water: Hy het gereformeerde gemeentes geleer sing!
Waarskynlik is dit een van die grootste nalatings en uitdagings aan gemeentes in ons dag – om weer te begin sing! In ’n tyd waarin musiek in eredienste oorheers word deur voorsanggroepe en orkeste en waar lidmate al meer toeskouers word, daag die Reformasie ons uit om lidmate weer aan die sing te kry.
Om gereformeerd te wees beteken om waar lidmate in die erediens saamkom uit volle bors saam te sing!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Sê Nou Net ...
Dit is die jaar 2017 – 500 jaar sedert Martin Luther en die Reformasie onder sy leiding die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander het. Beteken dit nog iets vir ons in 2017? Indien wel, wat?
Anders geformuleer: Sê nou net Martin Luther sou in Januarie 2017 hier aan die suidpunt van Afrika met ons kon praat – dalk selfs in die Groote Kerk kon preek – wat sou hy sê?
Pass skryf tereg dat een van die hoofdoelstellings van die Reformasie was om die leer van die kerk en die lewe van lidmate opnuut in lyn met God se Woord te bring. Luther, Zwingli, Bucer en Calvyn was volgens hom in wese agente vir 'n Back to the Bible-beweging. Vandaar sola Scriptura – die Woord alleen!
Dalk sou dit een van die belangrikste punte van Luther se boodskap aan 'n kerk in die lande hier aan die suidpunt van Afrika wees. Sê nou net hy sou aan lidmate wat kreun onder die swaar las van geweld, korrupsie, rassisme en ander vorme van misdaad en onreg, sê: "Fokus opnuut op die Bybel! Lees dit met nuwe ywer, bestudeer dit en gaan leef dit ondanks julle omstandighede!"
Dalk sou ons dan ophou wroeg en beledig en vloek en slegsê soos almal rondom ons, maar opnuut ontdek dat ons uit genade gered is omdat ons glo. Dat ons daarom deel is van 'n geloofsgemeenskap wat 'n spesifieke roeping in hierdie wêreld het. Ons sou onthou dat God se norme en waardes en liefde ons denke en ons dade moet bepaal en ons sou opnuut begin leef as mense wat daarna streef om iets van God se koninkryk in hierdie stukkende lande sigbaar te laat word.
Sê nou net Luther sou ons verder daaraan herinner dat die geloofsgemeenskap waarvaan ons deel is, nie maar net nog 'n groep of 'n klub is waaraan ons behoort nie, maar dat dit die Kerk van Jesus Christus is wat oorwinnend deur die geskiedenis op reis is.
Dan sou ons dalk ons kop kon optel om ongeag ons omstandighede as oorwinnaars in Christus in hierdie lande te begin leef. Dan sou ons kon help om ’n gemeenskap te transformeer met nuwe waardes. Ons sou onder meer armoede help bekamp, ons sou betrokke raak by die onderwyskrisis, ons sou pleit vir reg en geregtigheid, ons sou Jesus Christus as die enigste Verlosser opnuut met ywer en oorgawe verkondig – ons sou sonder moeite missionaal kerk kon wees.
Sê nou net dit sou gebeur … Dan kry die Reformasie van 500 jaar gelede nuwe sin en betekenis.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Keer Terug na ons Wortels
Oor 'n bietjie minder as 'n maand breek 2017 aan. Gereformeerdes oor die wêreld heen gaan terugkyk na die gebeure van 1517 en saam feesvier. Op ons reis terug na die tyd van die Reformasie het ons die afgelope jaar by verskeie belangrike rolspelers aangedoen en nagedink oor verskillende belangrike gebeure.
Die vraag bly egter: Wat beteken dit alles vir ons wat 500 jaar later aan die suidpunt van Afrika leef? Dat daar geen simplistiese antwoord op hierdie vraag is nie, is voor die hand liggend. Het ons egter geen antwoord op die vraag nie, is 2017 se viering totaal waardeloos en moet ons dit liewer los.
Miskien help die woorde van die Engelse hervormer, William Tyndale, ons in die regte rigting. Hy het volgens oorlewering op 'n keer aan 'n geestelike gesê: "As God my spaar, sal ek voordat baie jare verloop het, 'n seun agter 'n ploeg meer oor die Skrif leer as wat u weet."
Daarin lê die waarde van die komende feesjaar - dat ons eerstens moet terugkeer na ons wortels - na die Woord. Die Hervormers het juis beklemtoon dat God deur die Skrif met hulle handel. Dit is wat hulle bedoel het met die Woord van God: die lewende Woord wat in hul eie situasie met hulle praat. As die Bybel regtig die boek is wat die meeste verkoop word, maar wat die minste gelees word, moet ons in 2017 die Bybel weer herontdek - lees en leef.
Kry die kerk bogenoemde reg, sal dit ons tweedens help om opnuut na te dink oor wie ons eintlik is en wat ons roeping hier in suidelike Afrika is. Luther het beklemtoon dat die kerk in via is - op pad deur die wêreld as die ecclesia militans - die voortstrydende kerk wat voortdurend moet veg om die koninkryk van God te laat deurbreek. Dit is niks anders as missionale kerkwees nie - die uitdaging wat die NGK met groot oorgawe aanvaar het!
Alles sal egter net sin maak as ons saam met Luther kan sing:
'n Vaste burg is onse God,
ons skuil in Hom, die sterke.
Hy is 'n vesting in die nood -
vir ewig staan sy werke.
Al kom die Bose aan
in sy oorwinnaarswaan,
ons weet by al sy lis,
sy lot is reeds beslis - God self stel aan hom perke.
God hou sy woord altyd in stand,
geen mag kan dit laat wyk nie.
Hy hou ons heilig in sy hand,
sy trou sal nooit beswyk nie.
Al eis die Bose dan
hier alles wat hy kan,
dit bring hom geen gewin
ons gaan die hemel in,
hy roof ons nooit Gods ryk nie.
(Martin Luther, 1528)
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede