Prediking is die hart van erediens
Een van die belangrikste veranderinge wat die Reformasie tot gevolg gehad het, was die rol van prediking in die erediens.
Aanbidding in die Middeleeuse kerk het gefokus op die altaar en die bediening van die mis. Prediking was soms deel van die erediens maar was allermins noodsaaklik en goeie predikers is dikwels met groot agterdog bejeën.
Onder leiding van Luther het prediking die fokuspunt en die hart van die erediens geword. Die oorgang van die altaar na die preekstoel het vir Luther voortgevloei uit sy werk as pastor. Prediking van die Woord was nie bloot die uitleg en verduideliking daarvan nie – dit was die verkondiging van die evangelie! Vir Luther was enige prediking sonder die beklemtoning van die evangelieboodskap nie ware prediking nie. Gemeentelede moes by elke denkbare geleentheid hoor dat dit God is wat hulle uit genade gered het.
Sy taalgebruik was reguit en volgens geleerdes soms selfs kru. Luther het dit by meer as een keer verdedig deur te beklemtoon dat gewone gemeentelede presies moes kon verstaan wat hy sê.
By een van die geleenthede het hy onder meer gesê: "Wanneer ek preek, daal ek baie laag af. Ek steur my nie aan die doktore en ander akademici van wie daar omtrent 40 in die gemeente is nie. Ek het my oë op die groot menigte jongmense, kinders en arbeiders van wie daar meer as 2000 in die gemeente is".
Die digter Heinrich Heine skryf daarom tereg: "Nie die onderskeidingsvermoë van Erasmus of sagtheid van Melanchton het in die prediking soveel vir die Reformasie beteken as die goddelike brutaliteit van Martin Luther nie." Dit is daarom nie sonder rede dat gereformeerde dominees sedert die Reformasie in die algemene omgangstaal predikante genoem is nie.
Hierdie belang van prediking in die erediens is op ’n keer deur Ou-Testamentikus prof AH van Zyl beklemtoon toe hy aan sy studente gesê het: "Onthou menere, julle kan op geen manier in een week soveel mense met die Woord besoek en bereik as wat daar op 'n Sondag voor julle in die kerk sit nie. Sorg dat prediking altyd eerste prioriteit in jou bediening bly." Miskien is dit nodig dat ons as gereformeerdes, in 'n tyd waarin al meer kansels verdwyn, diep nadink oor die rol van prediking in die erediens. Is jy nog in jou wese en met oorgawe 'n VDM-verkondiger van die Goddelike Woord?
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
2 April is Outisme dag
Die Wêreldgesondheidsorganisasie gedenk slegs drie siektes op spesifieke dae. Een van hierdie toestande is outisme, en dit dui op die voorsiene impak wat hierdie toestand op die samelewing gaan hê. Die tweede April is outisme dag en die hele maand word wêreldwyd gebruik vir bewusmaking en inligtingverspreiding. Dit word aanvaar dat een uit elke honderd kinders gediagnoseer word om op die outistiese spektrum te val. As ons aanvaar dat hierdie syfer dieselfde is in Suid-Afrika, beteken dit dat 'n kind met outisme elke uur in ons land gebore word en dat daar huidiglik in die Vrystaat ongeveer 400 kinders per jaar gebore word met die diagnose.
Outisme is 'n toestand wat die ontwikkelende kinderbrein affekteer en probleme veroorsaak in drie areas, nl. kommunikasie, sosiale interaksie en die verbeeldingswêreld. Die algemene publiek sal dikwels eerste dink aan die karakter soos uitgebeeld deur Dustin Hoffman in Rain Man of miskien Raaiselkind van Annelie Botes. Hierdie siening verarm die werklikheid, aangesien elke kind met outisme uniek is.
Hulle het almal probleme in die areas reeds genoem, maar sal van mekaar verskil in ander. So sal die kinders wissel in vermoë, van talentvol tot kognitief gestremd, verbaal tot nie-verbaal, hipo- of hipersensitief vir die omgewing en met 'n geaardheid wat wissel van passief tot aktief.
Meeste mense weet van die verbasende vaardighede wat sommige persone op die outistiese spektrum het, soos bv. rekenkundige vaardighede, geheue vir feite of kuns- en musiektalent. Dit is steeds nie duidelik hoekom sulke besondere talent dikwels gepaardgaan met onverwagse swak punte in ander areas nie. Die waarheid is dat meeste van die kinders 'n ontwikkelingspatroon van sterk en onverwagse swak punte het.
Navorsing toon aan dat hul breinontwikkeling op 'n vroeë ouderdom versteur word a.g.v. 'n wisselwerking tussen gene en die omgewing. Dit veroorsaak dat die kommunikasiepunte tussen senuweeselle atipies ontwikkel, sodat die brein beter lokale- as langafstandkonneksies vorm. Dit bring mee dat hulle die omgewing anders ervaar en taal moeilik verstaan en ook meer ge-interesseerd is in voorwerpe as in mense.
Die kritieke sosiale interaksie tussen ouer en kind word dus versteur, wat lei tot verdere onderstimulasie en dat die kind ontsnap na 'n wêreld wat vir hom of haar voorspelbaar is. Hierdie ontsnapping manifesteer as herhalende gedrag, bv. 'n fassinasie met draaiende voorwerpe en moontlik later spesifieke belangstellings soos dinosourusse, treine of selfs die verskillende tipes kragpale. Omdat die kinders se voorkoms nie verskillend van tipiese kinders is nie, is mense dikwels onverdraagsaam teenoor hul soms vreemde optrede, iets wat soms vir ouers 'n verleentheid is.
Vroeë waarskuwingstekens van die toestand sluit in kinders wat nie op hulle naam reageer nie, stadige of atipiese taalontwikkeling, atipiese interaksie met hul portuurgroep en stereotipe bewegings. In 'n meertalige omgewing soos Suid-Afrika sal kinders soms presenteer met 'n taal wat aangeleer word van die televisie en wat verskil van die huistaal. Navorsers glo dat ons binnekort babas tussen en ses en twaalf maande reeds sal kan identifiseer deur te kyk na onder andere die kwaliteit van hul oogvolgbewegings.
Dit is van groot belang dat alle kinders met gevaartekens vroeg verwys word vir evaluasie, want vroeë ingryping kan keer dat outisme die normale ontwikkeling nog meer ontwrig. Terapeute en onderwysers wat spesialiseer in outisme-spesifieke behandeling speel hier 'n kritiese rol.
Die Internet is nog geduldiger as papier en ongelukkig wissel die kwaliteit van inligting beskikbaar vir ouers geweldig. Die gerug dat immunisasies en kwik die oorsaak is van die verhoogde voorkoms van die toestand word steeds aktief versprei. Ouers kan gerus na 'n boek soos Autism's False Prophets deur Dr. Paul Offit gaan om nader aan die waarheid te kom oor hierdie onderwerp. Outisme Suid-Afrika en Autism Speaks het beide webwerwe met baie hulpbronne en besonderhede oor goedgekeurde diensverskaffers.
Die ongemaklike waarheid is dat ons nog nie goedgevestigde dienste vir veral jong kleuters in die Vrystaat het nie. Daar is gelukkig klasse wat ontwikkel in skole soos Lettie Fouchè, Willem Postma en Pholoho. Die Vrystaat Outisme Ouervereniging het 'n privaatskool begin wat huidiglik n diens bied aan sewe leerders.
Die filosoof John Rawls het gesê dat, indien ons 'n nuwe samelewing sou beplan waar ons eie plek en talente versluier is, ons dit so sou doen om veral die kwesbares en weerloses in 'n vangnet te ondersteun. Hierdie is 'n kwessie wat ons almal raak en gaan raak en daarom behoort ons as samelewing saam te staan en te help.
Dr. D.J. Griessel - Ondervoorsitter Outisme Suid-Afrika
- Besonderhede
Kom ons leer die kinders!
Wat het die herdenking van die Reformasie vyf eeue gelede te doen met van die uitstaande skole in ons land soos Grey Kollege in Bloemfontein? Wel, eintlik alles!
Die verhaal loop soos volg: In 1855 het Andrew Murray jr met sy bediening in Bloemfontein begin. Murray het gou bewus geword van die behoefte aan 'n goeie skool en het 'n leidende rol gespeel in die vestiging van 'n kollege waar jong mans opgelei kon word as onderwysers.
Sy toewyding aan die saak van onderwys en 'n donasie van £4,500 (R74 934,11) deur Goewerneur George Grey, goewerneur van die Kaapkolonie, het dit moontlik gemaak dat die hoeksteen van Grey Kollege op 13 Oktober 1856 deur president Boshoff gelê is. Met die amptelike opening van Grey Kollege op 27 Januarie 1859 is Murray as die eerste rektor aangewys.
Dit is dieselfde Murray wat bykans 20 jaar vroeër tydens sy studie in Aberdeen, Skotland, met die werk van die Skotse hervormer John Knox te doen gekry het. Knox het op sy beurt weer in Genève met Calvyn se standpunte oor die onderwys te doen gekry.
Van Calvyn in Genève via Knox na Skotland via Murray na Suid-Afrika – en 500 jaar later pluk Suid-Afrika steeds die vrugte van uitnemende skole soos Grey Kollege.
Om die impak van die Reformasie op die onderwys van die tyd te verstaan, moet ons egter vir 'n oomblik stilstaan by Luther. Luther het meer breedvoerig oor die onderwys geskryf as enige van die ander hervormers. Sy twee uitstaande werke was: Aan die Raadslede van alle stede in Duitsland sodat hulle Christelike skole kan vestig en onderhou (1524) en 'n Boodskap om kinders in die skool te hou (1530).
In hierdie twee dokumente het Luther breedvoerig geskryf oor die noodsaaklikheid van opvoeding en onderwys, verskillende curricula, metodes van onderwys, die noodsaak van biblioteke, die verantwoordelikheid van die staat, die verantwoordelikheid van ouers en die belangrike rol wat Christen-onderwysers moes speel.
Daarmee het Luther ongetwyfeld die fondament gelê wat deur ander hervormers soos Calvyn, Melanchton, Zwingli en Knox verder uitgebou en ontwikkel is.
Vyfhonderd jaar later leef Suid-Afrikaners in 'n land met ’n onderwysstelsel in chaos. Miskien moet deel van ons feesvier wees om dit wat hervormers oor die kerk se verantwoordelikheid ten opsigte van onderwys en opvoeding geskryf het, te herbesoek.
Op die spoor van 'n Andrew Murray jr sal daar dalk iewers 'n skool of skole ontstaan wat oor dekades heen 'n positiewe bydrae tot kerk en samelewing kan lewer en dan sal ons kan juig: Ecclesia Reformans semper reformanda" – Leer die kinders!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede