Reformasie 500 - sê nou net
Sê Nou Net ...
Dit is die jaar 2017 – 500 jaar sedert Martin Luther en die Reformasie onder sy leiding die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander het. Beteken dit nog iets vir ons in 2017? Indien wel, wat?
Anders geformuleer: Sê nou net Martin Luther sou in Januarie 2017 hier aan die suidpunt van Afrika met ons kon praat – dalk selfs in die Groote Kerk kon preek – wat sou hy sê?
Pass skryf tereg dat een van die hoofdoelstellings van die Reformasie was om die leer van die kerk en die lewe van lidmate opnuut in lyn met God se Woord te bring. Luther, Zwingli, Bucer en Calvyn was volgens hom in wese agente vir 'n Back to the Bible-beweging. Vandaar sola Scriptura – die Woord alleen!
Dalk sou dit een van die belangrikste punte van Luther se boodskap aan 'n kerk in die lande hier aan die suidpunt van Afrika wees. Sê nou net hy sou aan lidmate wat kreun onder die swaar las van geweld, korrupsie, rassisme en ander vorme van misdaad en onreg, sê: "Fokus opnuut op die Bybel! Lees dit met nuwe ywer, bestudeer dit en gaan leef dit ondanks julle omstandighede!"
Dalk sou ons dan ophou wroeg en beledig en vloek en slegsê soos almal rondom ons, maar opnuut ontdek dat ons uit genade gered is omdat ons glo. Dat ons daarom deel is van 'n geloofsgemeenskap wat 'n spesifieke roeping in hierdie wêreld het. Ons sou onthou dat God se norme en waardes en liefde ons denke en ons dade moet bepaal en ons sou opnuut begin leef as mense wat daarna streef om iets van God se koninkryk in hierdie stukkende lande sigbaar te laat word.
Sê nou net Luther sou ons verder daaraan herinner dat die geloofsgemeenskap waarvaan ons deel is, nie maar net nog 'n groep of 'n klub is waaraan ons behoort nie, maar dat dit die Kerk van Jesus Christus is wat oorwinnend deur die geskiedenis op reis is.
Dan sou ons dalk ons kop kon optel om ongeag ons omstandighede as oorwinnaars in Christus in hierdie lande te begin leef. Dan sou ons kon help om ’n gemeenskap te transformeer met nuwe waardes. Ons sou onder meer armoede help bekamp, ons sou betrokke raak by die onderwyskrisis, ons sou pleit vir reg en geregtigheid, ons sou Jesus Christus as die enigste Verlosser opnuut met ywer en oorgawe verkondig – ons sou sonder moeite missionaal kerk kon wees.
Sê nou net dit sou gebeur … Dan kry die Reformasie van 500 jaar gelede nuwe sin en betekenis.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).