Luther se Ontdekking
"Ek het met uie aangekom en met knoffel weggegaan."
Hierdie woorde van Martin Luther vertel iets van sy ontnugtering na sy besoek aan Rome. Wat veronderstel was om 'n hoogtepunt op sy geestelike reis te wees, het in 'n nagmerrie ontaard. Hy was in sy eie woorde: "soos Jesaja 'n sondaar tussen sondaars."
Teen die tyd dat hy sy doktorsgraad op 18 Oktober 1512 van dr Andreas von Karlstadt ontvang het, het Luther al die moontlikhede wat die kerk gebied het om vrede te vind, uitgeput.
Hoe meer hy daarna gestreef het om die beeld van 'n kwaai God af te skud, hoe minder het hy dit reggekry. Hy kon op geen manier van sy eie skuld ontslae raak wanneer hy oor die regverdige God nagedink het nie. Luther kon die God wat hy as kind leer ken het, vrees of selfs haat, maar liefhê nooit.
Die jong monnik sou egter in sy soeke na die regverdige God nie rus voordat hy Hom gevind het of homself oortuig het "dat so 'n God nie bestaan nie".
In die herfs van 1515 tref ons Luther by die Universiteit van Wittenberg aan waar hy klas gee oor Paulus se brief aan die Romeine. Hoe meer Luther met die teks van Romeine geworstel het, hoe meer het hy hom blindgestaar teen 'n kwaai God.
Die deurbraak kom wanneer Luther, na dae en nagte se worsteling oor Romeine 1:17 ontdek dat die "regverdigheid van God in die evangelie geopenbaar word" en dat "die regverdiges deur geloof sal leef".
Skielik het hy verstaan dat God mense uit genade vryspreek omdat hulle glo. Oor hierdie ontdekking skryf Luther: "Skielik het ek gevoel of ek weer gebore word en het ek geglo dat ek die paradys deur wyd geopende deure binnegegaan het."
Hierdie bewuswording het Luther onder meer laat sê: "'n Christen is vry van alle dinge: hy het geen goeie dade nodig om geregverdig en gered te word nie, maar hy ontvang alles in oorvloed deur geloof alleen."
Wat die kerk as instituut deur sy sakramente nie vir Luther kon doen nie, het die Woord gedoen. Christus het vir sondaars gesterf en wie in Hom glo is uit genade vrygespreek en gered. Uiteindelik het Luther 'n regverdige God gevind!
Hierdie "ontdekking" sou die gang van die geskiedenis van die kerk verander.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Martin Luther
Op reis terug deur die geskiedenis staan ons vir 'n oomblik stil in die jaar 1505. 'n Briljante jong regstudent met die naam Martin Luther is op pad van Stotternheim na Erfurt.
'n Geweldige storm dreig en wanneer 'n weerligstraal die jong Luther byna raakslaan, roep hy uit: "Red my heilige Anna en ek sal 'n monnik word!" 'n Weerligstraal was immers 'n duidelike teken van die oordeel van God - dit het enige goeie Duitser geweet.
Wanneer Luther hom op 17 Julie 1505 by die Augustynse klooster in Erfurt aanmeld "om sy siel te red", is dit die begin van 'n verhaal wat die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander het.
Martin Luther is op 10 November 1483 in Eisleben gebore. Sy pa, Hans, was 'n mynwerker in Mansfeld. Dit het veroorsaak dat Luther as deel van die werkersklas swaar grootgeword het. Armoede en harde werk was deel van sy bestaan.
In 1497 het sy pa hom na die Domschule in Magdeburg gestuur waar Luther vir die eerste keer met 'n volledige Bybel in aanraking gekom het. Hy het later verklaar dat hierdie gebeurtenis 'n onuitwisbare indruk op hom gemaak het.
Luther het sy aanvanklike regstudie in April 1501 onder die naam Martinus Ludher von Mansfeld aan die Universiteit van Erfurt begin. Hy was 'n briljante student wat sy BA-graad in slegs twee jaar verwerf het.
Op 9 Maart 1509 het hy sy graad in Teologie ontvang en slegs drie jaar later is 'n doktorsgraad in Teologie op 18 Oktober 1512 deur die Universiteit van Wittenberg aan hom toegeken.
Hierdie akademiese prestasie was merkwaardig veral omdat Luther dit te midde van 'n ernstige innerlike worsteling behaal het. In sy eie woorde: "Ek was vir 20 jaar 'n monnik en het myself geteister met gebede, vas, wake en koue tot so 'n mate dat ek amper van die koue gesterf het. Wat anders was dit as 'n soeke na die ware God?"
Hoe meer Luther egter na die ware God gesoek het, hoe minder kon hy Hom vind. Dit het Luther laat verklaar dat hy God nie liefhet nie, maar eerder haat. Min het hy geweet dat die God na wie hy gesoek het, slegs maar 'n karikatuur was van die ware God wat Hom in Jesus Christus aan die wêreld kom bekend maak het. Hierdie lig sou aanstons vir hom deurbreek!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Tegnologies Wonder van die Tyd
Op reis deur die era van die Reformasie, moet ons 'n oomblik vertoef by een van die tegnologiese wonders van die tyd. Dit was nie 'n slimfoon of tabletrekenaar nie, maar 'n drukpers.
Die uitvinding en ontwikkeling van die drukpers word allerweë as een van die belangrikste gebeure van die Renaissance beskou. Naas die uitvindsel van die stiebeuel en die herontdekking van buskruit het hierdie "tegnologiese wonder" 'n heel nuwe dimensie in die geskiedenis van boeke en geleerdheid daargestel.
Boeke en geskrifte wat voorheen met die hand oorgeskryf moes word, kon nou in massas gedruk en versprei word. Die Reformasie het direk daarby gebaat omdat die aanvanklike geskrifte van Luther en Melanchton die publiek binne enkele weke in gedrukte vorm kon bereik.
Hierdie standpunt is deur Luther self bevestig toe hy na oorlewering aan sy studente gesê het: "Die drukpers is God se nuutste en beste werk om die ware godsdiens deur die wêreld te help versprei."
Alhoewel die eerste gedrukte boek reeds in 868 in China die lig gesien het, was dit Johann Gutenberg wat teen 1445 in Mainz, Duitsland, baanbrekerswerk gedoen het en die eerste drukpers ontwikkel het. Sy uitvindsel het 'n geheim gebly totdat die stad in 1462 geplunder is en die drukkers verjaag is.
Met Luther se geboorte in 1483 was die drukkuns goed gevestig deur die hele Europa.
Terwyl daar met die aanvang van die Reformasie jaarliks slegs 500 boeke gepubliseer is, het drukkers daarvoor gesorg dat daar tydens die hoogbloei van die Reformasie bykans 40 000 eksemplare van die bekende werk Beneficio di Christo, wat oor die regverdigmaking deur geloof gehandel het, gedruk en verkoop is.
Die drukkuns het egter nie net die verspreiding van polemiese pamflette en geskrifte aangehelp nie. Dit was ook instrumenteel in die publikasie van vertaalde Bybels. Voordat Luther se sogenaamde Septemberbybel in 1522 verskyn het, het daar reeds 14 verskillende weergawes van die Bybel in Duits verskyn.
Luther se vertaling van die Nuwe Testament was onmiddellik 'n sukses terwyl daar in Zürich alleen voor die einde van die 16e eeu reeds 19 verskillende weergawes van die Bybel gepubliseer is. 'n Stroom sagteband-weergawes van die Nuwe Testament, preke en pamflette het deurlopend van die drukperse in Wittenberg, Genève en ander Europese stede gevloei.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede