Sing en dans … omdat ons gereformeerd is!
Een van die treffendste opmerkings wat prof Jürgen Moltmann gemaak het tydens sy onlangse besoek aan Suid-Afrika, was dat die Christendom 'n godsdiens van vreugde is – 'n godsdiens van sing en dans!
Hy sê dat die kruis, wat oor pyn en lyding gaan, vir ewig ingebed staan tussen twee momente van onuitspreeklike vreugde: Jesus se geboorte en sy opstanding! Daarom moet ons deur die bril van hierdie vreugde na die kruis en Jesus se lyding kyk.
Doen ons dit, kom ons agter dat lyding vir gelowiges altyd tydelik is – dat dit 'n begin en 'n einde het, maar dat die vreugde van die stal en die leë graf ewig is – 'n bron van vreugde wat ons te midde van ons omstandighede laat sing en dans!
Hoe pas dit by ons gereformeerd-wees in? het ek onwillekeurig gewonder – want vir baie gereformeerdes is godsdiens 'n saak van stroefheid en erns. Ja, amper permanente droefheid as ek aan my kinderdae terug dink. Ons is immers in sonde ontvang en gebore – sondaars wat gedurig daaraan herinner moet word dat ons ons sonde moet bely! Dat dit waar is, kan nie ontken word nie, maar ongelukkig haak ons soms daar vas.
Luther wil ons 500 jaar later reghelp. Gereformeerd-wees, sou Luther wou sê, beteken juis dat jy uit genade vrygemaak is omdat jy glo! Hy het oor hierdie ontdekking in sy eie lewe geskryf: "Daarop het ek gevoel dat ek weer gebore word en dat ek deur die oop deure 'n paradys binnegegaan het." Groter rede tot vreugde is daar mos vir geen mens op aarde nie – en dit is die wese van ons gereformeerde tradisie!
Hierdie gedagte word onderskryf in die sogenaamde Kort kategismus van die Westminister-gemeente wat uit 1643 dateer. In antwoord op die vraag: "Wat is die mens se hoofdoelwit?" lui die kategismus: "Om God te prys en hom vir ewig te geniet."
Gereformeerd-wees beteken dat ons vrolik en vry kan leef – want ons is vrygemaak! Daarom is ons godsdiens 'n godsdiens van vreugde en daarom kan ons sing en dans! Miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat ons op die klanke van die melodie van gereformeerd-wees wat oor 500 jaar na ons aangesweef kom, moet begin sing en dans.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
En die kerk is …
Wie en wat is die kerk? Dit is vrae wat meer en meer gevra word namate die kerk ingesleep word in 'n sekulêre wêreld met sy eie spelreëls. Aan die een kant is daar meer en meer predikante en kerkrade wat hulle geskille in die hof uitveg en word die kerk gedreig met hofsake oor verskeie sake. Aan die ander kant word gemeentes so gekommersialiseer dat wins en verlies, die najaag van doelwitte en prestasiebeoordeling van predikante se werk aan die orde van die dag is. In die jaar waarin ons nadink oor 500 jaar se Gereformeerd-wees is dit dringend nodig dat daar weer besin word oor die identiteit en ware aard van die kerk.
Vir beide Luther en Calvyn was dit eenvoudig. Waar die Woord van God opreg verkondig en gehoor is en waar die sakramente bedien is, daar was die ware kerk teenwoordig. Luther het verder beklemtoon dat die kerk 'n versameling van gelowiges is wat al hulle vertroue plaas in die versoening wat Jesus aan die kruis verwerf het. Uit genade op grond van hulle geloof in Jesus Christus is hulle gered en byeengebring as sy kerk. Calvyn het hierby aangesluit deur te beklemtoon dat die kerk 'n versameling van mense uit alle volke is wat saamgebind is deur 'n gemeenskaplike geloof in Jesus Christus. Hy het hom onder meer beroep op Matteus 18: 20: "Want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle." Hierdie standpunt was in skerp teenstelling met die siening van die Middeleeue wat die kerk beskou het as 'n versameling van gelowiges wat God en hulle medemens bloot moes lief hê.
Luther het verder gegaan deur te beklemtoon dat die kerk 'n strydende kerk is wat op pad was deur die geskiedenis en wat voortdurend oorlog gemaak het teen die duiwel en die sonde. Die kerk was egter ook die plek waar gelowiges saamkom om die evangelie te hoor en waar die Heilige Gees hulle, terwyl hulle daarna luister in staat stel om dit te glo sodat hulle, wanneer hulle sterf, deel kon word van die triomferende kerk.
Johan Heyns het die wese van die kerk raak opgesom deur te sê: "Die basiese struktuur van die kerk kom dus hierop neer: enersyds God wat, in genade, mense in Jesus Christus uitverkies en roep en andersyds mense wat in gehoorsaamheid instemming met Gods bedoeling betuig".
As ons só oor die kerk dink is die kerk in wese anders as 'n maatskappy of 'n klub. Dit daag ons uit om dalk opnuut anders te dink, 'n ander taal te leer praat en gans anders in die kerk te doen!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Die bedeling van die kerk begin
Die vervulling van die Pinksterfees, toe die kerk van Christus sy formele beslag gekry het, was ook vir 'n Sondag bestem: "Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring - sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyfig dae tel; dan moet julle 'n nuwe spysoffer aan die Here bring" (Lev. 23: 15 - 16). Die vervulling van hierdie Ou-Testamentiese fees, ook op 'n Sondag, was die dag toe die Heilige Gees uitgestort is (Hand. 2).
Die Fees van die Eerste Vrugte is dus op die eerste dag ('n Sondag) deur die beweegoffer van die eerstelingsgerf ingelui, en 50 dae later (weer op 'n Sondag) deur die Pinksterfees afgesluit. Pinksterfees beteken letterlik: Die Fees van die Vyfigste Dag.
Ons weet vir seker dat Jesus op 'n Sondag uit die graf opgestaan het, en daardeur die eersteling geword het van dié wat uit die dood opgestaan het (Matt. 28: 1; Joh. 20: 1). Daarna het 40 dae tot op die Donderdag van sy hemelvaart verloop (Hand. 1: 3), en nog 'n verdere tien dae waarin die dissipels op die uitstorting van die Heilige Gees gewag het. Op die vyfigste dag, wat presies met die Ou-Testamentiese Pinksterfees saamgeval het, is die Heilige Gees uitgestort (Hand. 2: 1 - 3). Op daardie Sondagoggend het die bedeling van die kerk begin.
Geskryf deur Prof Johan Malan
- Besonderhede