En die regte kerklike leiers vind ons …
Iemand skryf onlangs dat die kerk nuwe leiers nodig het. Tye het so dramaties verander dat die "ou" manier van doen gewoon net nie meer werk nie. Daarmee het hy een van die mees kontensieuse sake in die kerklike wêreld op die tafel geplaas.
Van die heel begin af deur die vroeë kerk tot in die Middeleeue het kerklike leiers en die stryd om leierskap gedreig om die kerk lam te lê. Die rigting waarin sake beweeg het word weerspieël in 'n aanhaling van Ambrosius van Milaan wat gesê het: "Niks op hierdie aarde is meer verhewe as priesters of edeler as biskoppe nie."
Waarskynlik het leierskap in die kerk 'n laagtepunt bereik met die sogenaamde Groot Skeuring in 1381. Selfs met die beste bestuur ter wêreld kon die pousdom nie die verdeeldheid in eie geledere heel nie. Met 'n pous in Frankryk (Clemens VII) en 'n pous in Rome (Urbanus VI) het dit selfs op gewapende botsings tussen die twee kerkleiers uitgeloop.
Beide van hulle het geweier om 'n konsilie in Pisa in 1409 by te woon waarop die kardinale albei afgesit het en 'n nuwe pous, Alexander V in hulle plek gekies het. Geeneen van die ander pouse het hom egter erken nie, wat die kerk met die belaglike situasie van drie pouse gelaat het. Hierdie situasie sou tot 1417 met die Konsilie van Konstantz voortduur toe Marthinus V as enigste pous aangewys is.
Dit is daarom nie vreemd dat leierskap in die kerk een van die vernaamste redes vir die Reformasie was nie. Die rol van die pous en die gesag van die pous was een van die belangrike temas in Luther se 95 stellinge. Met die skryf van sy Kerkorde in Genève het Calvyn ook duidelik uitgespel hoe kerklike leierskap moet funksioneer.
Hoe sou die Reformasie van 500 jaar gelede ons dan help met nuwe kerklike leiers? Ons sou dit soos volg kon saamvat:
- Christus is hoof van sy Kerk. Dit is waar die hoogste gesag gesetel is.
- Hy regeer sy kerk deur sy Woord en sy Gees.
- Daarvoor gebruik Hy die ampte – mense wat deur Hom geroep en toegerus is vir die taak van leierskap in die kerk.
- Kerklike besluite word geneem in vergaderings waar die geroepenes saamkom in die naam van Jesus Christus onder leiding van sy Gees op grond van sy Woord.
Miskien het ons nodig om weer ernstig oor hierdie sake te besin. Doen ons dit, kan ons ophou soek vir nuwe leiers. Die Hoof van die kerk sal die regte leiers vir die regte tyd as 'n gawe aan sy kerk gee.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Uitspraak oor Godsdiens op Skole
Die afgelope week of twee het die kerk kennis geneem van die CRL se reaksie op onder meer die NG Kerk se kommentaar op die regulering van godsdiens. Die NG Kerk het reeds daarop gereageer en 'n artikel in Rapport van 2 Julie het berig dat die regulering van godsdiens baie sterk teengestaan sal word. Die NG Kerk se reaksie doen 'n baie sterk beroep op die vryheid van godsdiens soos in die Grondwet verskans. Die hofuitspraak rondom godsdiens op skole is ook bekendgemaak. Ek deel graag met jou 'n perspektief of twee op hierdie uitspraak.
Uitspraak oor Godsdiens op Skole
In die media is daar die afgelope week kennis geneem van 'n belangrike hofuitspraak in die Suid-Gautengse Hooggeregshof oor godsdiens in skole. Uitspraak is gelewer deur regter Willem van der Linde in die saak OGOD (Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie) versus ses skole. Die beheerliggame van hierdie ses skole is almal lid van FEDSAS, wat die skole in die hofsaak bygestaan het. Dié belangrike toetssaak het sy oorsprong in 2014 toe die applikant OGOD die hof versoek het om dit ongrondwetlik te verklaar dat sekere godsdienspraktyke in skole voorkeur bo ander geniet.
Die hof het sy ondersoek op drie vrae gerig. Die eerste het betrekking op sy bevindings of 'n skool 'n spesifieke godsdiens ten koste van ander kan bevorder. Die tweede saak aan die orde was of 'n openbare skool self godsdiensbeoefening kan uitvoer en of dit slegs deur buitepartye op die skole se perseel gedoen mag word. Die derde vraag was of leerders gevra kan word met watter geloof, indien enige, hulle hulle vereenselwig. Die tweede en derde vraag is albei in die skole se guns beantwoord.
Berigte in die media interpreteer die uitspraak wat gelewer is as 'n oorwinning vir OGOD. So 'n interpretasie verteenwoordig egter nie die inhoud van die hofuitspraak behoorlik nie. OGOD se hofaansoek het 77 bevele teen ses skole aangevra en slegs twee van hierdie bevele is toegestaan. Die hofuitspraak bevestig in werklikheid die feit dat 'n openbare skool behoort aan die onmiddellike gemeenskap waarbinne die skool geleë is. Dit bevestig dat die skool se beheerliggaam verteenwoordigend van die breër skoolgemeenskap is en dat hulle ooreenkomstig die Grondwet (Artikel 15b) en die Skolewet (Artikel 7) die gesag het om besluite te neem ten opsigte van belangrike aspekte soos 'n skool se taal- en toelatingsbeleid en hoe godsdiens by die skool beoefen word. Dié belangrike aspek van die gesag van 'n skool se beheerliggaam as liggaam wat 'n skool namens die onmiddellike skoolgemeenskap bestuur, word deurentyd in die uitspraak bevestig. Die hof bevestig verder dat die Nasionale Beleid oor Godsdiens en Onderwys nie afdwingbare reëls daarstel nie, maar eerder 'n belangrike dokument is wat riglyne oor godsdiens in onderwys verskaf.
Die Applikant mag nie die gedrag van die skole teen die Grondwet of teen die Skolewet uitdaag nie; dit mag dit net uitoefen teen die skool se eie reëls vir die uitvoering van godsdienstige oefeninge. 'n Openbare skool mag nie die nakoming van 'n enkele godsdiens bevorder nie. Die maak van beleid ten opsigte van die gedrag van godsdiensbeoefening by 'n skool bly egter die reg en verantwoordelikheid van elke individuele skool se beheerraad. Die skool sal wettig optree solank sy godsdienstige nakoming met reëls van sy beheerraad ooreenstem.
Die NG Kerk het nog altyd van die standpunt uitgegaan dat die Godsdiensbeleid en -beoefening by openbare skole op 'n billike, gelyke en vrywillige grondslag geskied. Hierdie beginsel word baie duidelik verwoord in die Skolewet na aanleiding van die Grondwet. Die NG Kerk was van die begin af ten gunste van vrywillige godsdiensbeoefening. Vanuit 'n kerklike oogpunt gesien, is daar dus geen spanning ten opsigte van die uitspraak nie.
FEDSAS het die totale verwydering van enige vorm van godsdiensbeoefening vanaf die skoolterrein teengestaan. Die Suid-Afrikaanse Grondwet is nie soortgelyk aan die Amerikaanse model van 'n waterdigte skeiding tussen kerk en staat nie, maar lê klem op verdraagsaamheid en diversiteit. Hierdeur het die hof die plek van godsdiens in die publieke sfeer bevestig.
Dit is die mening van regskenners dat die hof se motivering vir die toekenning van deeltydse verligting aan die applikant verrassend dun is. FEDSAS het reeds te kenne gegee dat die uitspraak bestudeer sal word en dat verdere regsprosesse nie uitgesluit is nie.
Vriendelike groete uit Leipzig
Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
- Besonderhede
'Pinkster' is diep gewortel in die Reformasie
Wat het die Reformasie en "Pinkster" soos wat dit in die NG Kerk gevier word, met mekaar in gemeen? Die gemene deler is herlewing! Net soos wat die Reformasie onder leiding van Martin Luther 500 jaar gelede die eerste groot herlewing in die Christelike kerk ingelei het, het die Pinkstergebeure van 1861 tot die eerste groot herlewing in die NG Kerk gelei.
Op 19 Mei 1861 het 'n gebeurtenis in die Paarl afgespeel wat die geskiedenis van die NG Kerk onherroeplik verander het. Gedurende die 10 dae van Hemelvaart ná Pinkstersondag het verskeie gebedsgroepe in die gemeente Paarl om herlewing gebid.
Ds GWA van der Lingen het op die Pinkstersondag uit Lukas 24: 49 oor die gawes van die Gees gepreek en ernstig gebid dat die belofte tog vervul moes word. Tydens die middagbiduur het hy 'n visioen van Christus gesien wat hy as 'n openbaring van God beleef het.
Hierdie gebeure het tot 'n grootskaalse herlewing in die gemeente gelei en daar is besluit om Pinkster jaarliks op dieselfde wyse te vier. Die nuus van die herlewing het vinnig versprei en ander gemeentes het in die voetspore van die Paarlgemeente gevolg. Die gebruik het gaandeweg gegroei tot wat algemeen in die NG Kerk as "Pinksterdienste" of "Pinksterbidure" bekendgeword het.
Hierdie herlewings het 'n groot bydrae gelewer tot die evangeliese karakter van die kerk en het 'n aktiewe gebedslewe opnuut beklemtoon. 'n Kragtige geloofslewe, en die aanvaarding van die sentrale geloofswaarhede van die Bybel het belangrike fokuspunte geword. In die prediking is klem gelê op persoonlike bekering en heiligmaking terwyl kerkmusiek ook duidelik die stempel van die herlewings gedra het.
Miskien weerspieël dit iets van wat Luther self ontdek het tydens sy "bekering". Hy vertel self: "Toe ek verstaan dat God mense uit genade red enkel en alleen omdat hulle glo, het ek gevoel asof ek weer gebore word en ek het geglo dat ek die paradys deur wye oop deure binnegegaan het. Vir my het God se genade regtig die hekke van die paradys oopgemaak".
Luther se ontdekking van God se genade het nie net vir homself die hekke van die paradys laat oopgaan nie. Die voortgaande reformasie onder sy leiding het dit vir duisende ander gelowiges ook gedoen net soos wat Pinkster dit vir duisende lidmate van die NGK gedoen het en steeds doen.
Daarom is "Pinkster"” diep gewortel in die Reformasie!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede