NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

Reformasie 500 - Op Pad na 2017 - Het dit Sin?

Keer Terug na ons Wortels

Oor 'n bietjie minder as 'n maand breek 2017 aan. Gereformeerdes oor die wêreld heen gaan terugkyk na die gebeure van 1517 en saam feesvier. Op ons reis terug na die tyd van die Reformasie het ons die afgelope jaar by verskeie belangrike rolspelers aangedoen en nagedink oor verskillende belangrike gebeure.

Die vraag bly egter: Wat beteken dit alles vir ons wat 500 jaar later aan die suidpunt van Afrika leef? Dat daar geen simplistiese antwoord op hierdie vraag is nie, is voor die hand liggend. Het ons egter geen antwoord op die vraag nie, is 2017 se viering totaal waardeloos en moet ons dit liewer los.

Miskien help die woorde van die Engelse hervormer, William Tyndale, ons in die regte rigting. Hy het volgens oorlewering op 'n keer aan 'n geestelike gesê: "As God my spaar, sal ek voordat baie jare verloop het, 'n seun agter 'n ploeg meer oor die Skrif leer as wat u weet."

Daarin lê die waarde van die komende feesjaar – dat ons eerstens moet terugkeer na ons wortels – na die Woord. Die Hervormers het juis beklemtoon dat God deur die Skrif met hulle handel. Dit is wat hulle bedoel het met die Woord van God: die lewende Woord wat in hul eie situasie met hulle praat. As die Bybel regtig die boek is wat die meeste verkoop word, maar wat die minste gelees word, moet ons in 2017 die Bybel weer herontdek – lees en leef.

Kry die kerk bogenoemde reg, sal dit ons tweedens help om opnuut na te dink oor wie ons eintlik is en wat ons roeping hier in suidelike Afrika is. Luther het beklemtoon dat die kerk in via is – op pad deur die wêreld as die ecclesia militans – die voortstrydende kerk wat voortdurend moet veg om die koninkryk van God te laat deurbreek. Dit is niks anders as missionale kerkwees nie – die uitdaging wat die NGK met groot oorgawe aanvaar het!

Alles sal egter net sin maak as ons saam met Luther kan sing:

'n Vaste burg is onse God,
ons skuil in Hom, die sterke.
Hy is 'n vesting in die nood –
vir ewig staan sy werke.

Al kom die Bose aan
in sy oorwinnaarswaan,
ons weet by al sy lis,
sy lot is reeds beslis – God self stel aan hom perke.

God hou sy woord altyd in stand,
geen mag kan dit laat wyk nie.
Hy hou ons heilig in sy hand,
sy trou sal nooit beswyk nie.

Al eis die Bose dan
hier alles wat hy kan,
dit bring hom geen gewin
ons gaan die hemel in,
hy roof ons nooit Gods ryk nie.

(Martin Luther, 1528)

Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).