NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

Reformasie 500 - "Eet wat jy wil..." - Zwingli

Ulrich Zwingli

Hierdie woorde van Ulrich Zwingli tydens 'n preek op 30 Maart 1522 is tiperend van die hervormer van Switserland.

Zwingli het hom openlik uitgespreek teen teologiese wanpraktyke van die Katolieke Kerk. Een daar van was die gebruik om te vas tydens lydenstyd.

Nadat een van sy volgelinge, die drukker Christopher Froschauer besluit het dat sy uitgeputte werkers wors in plaas van die gebruiklike vis tydens lydenstyd kon eet, is al die worseters deur die stadsvaders van Zürich gearresteer en in die tronk gegooi.

Zwingli het sonder om te skroom gereageer deur in die preek te beklemtoon dat die mens vry is om te eet wat jy wil wanneer jy wil omdat Christus die mens kom vrymaak het!

Zwingli is op 1 Januarie 1484, sewe weke na die geboorte van Luther, in die dorpie Wildhaus gebore. Nadat hy sy skoolloopbaan in Latyn voltooi het, en aanvanklike studie aan die Universiteit van Wene, het hy sy studie in 1502 aan die Universiteit van Basel voortgesit.

Dit is daar waar hy tydens die lesings van Thomas Wyttenbach oor die Romeineboek besef het dat vergifnis van sonde alleen in die dood van Jesus Christus te vinde was.

Luther en Zwingli het net een keer persoonlik in 1529 in Marburg ontmoet. Die vonke het gou gespat toe die twee hervormers mekaar se teologie verwerp het en radikaal oor die nagmaal verskil het.

Die rede daarvoor is waarskynlik die feit dat Luther 'n hervormer geword het nadat 'n lang geestelike stryd hom na 'n klooster gedwing het. Zwingli, aan die ander kant, was 'n humanis met 'n meer rasionalistiese benadering tot godsdiens. Luther was 'n volgeling van Augustinus, Zwingli 'n volgeling van Erasmus.

In 'n stadium het die debat persoonlik geraak en het Zwingli Luther toegesnou: "Hierdie sal jou rug breek!" waarop Luther gereageer het met: "Moenie te gou spog nie. Hier word nie nekke gebreek nie. Jy is nou in Duitsland, nie in Switzerland nie."

Hoewel Zwingli later verskoning gevra het, was die skade gedoen en het die twee se paaie uiteen gegaan.

Zwingli het die reformasie in Switserland aangevoer, maar word ook onthou vir sy bitter gevegte met die anabaptiste (wederdopers). Die marteldood van Felix Manz wat op 5 Januarie 1527 verdrink is, het 'n donker skadu oor die lewe en werk van Zwingli gegooi.

Zwingli self het in die tweede Kappeloorlog in 1532 gesterf toe hy van sy perd geval het en met 'n swaard deurboor is. Dit het 'n einde gebring aan die reformasie in Switserland.

Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).