NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

Moenie kwaad praat nie

Jakobus 4: 11 – "Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers. Hy wat van sy broer kwaad praat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet en veroordeel die wet. En as jy die wet veroordeel, handel jy nie meer volgens die wet nie, maar speel jy regter daaroor."

Ongetwyfeld het ons elkeen al deurgeloop onder 'n ander se skerp tong, of liefdelose optrede. Maar die teendeel is ongelukkig ook 'n werklikheid. Ons staan self meer agter die deur as wat ons graag sou wou erken.

Hoe kan ons as gemeente wat vir Christus en ander omgee die slegte gewoonte afleer?

  • Deur voor God te erken en te bely dat ons skuldig is;
  • Ons boetie/sussie in die geloof in die oë te kyk en dit reg te stel;
  • Daarna te strewe om te wil verander en meer sensitief vir die Heilige Gees te wees sodat ons meer bewus daarvan sal wees wanneer ons wel in die strik trap.

Indien ons enigsins twyfel of ons enige waarde hieraan hoef te heg, kan ons net vir 'n wyle 'n terugblik neem na 'n oomblik waar ons miskien die slagoffer was van ‘n skinderstorie. Herroep weer die vernedering en seer wat daarmee gepaard gegaan het toe die storie met 'n draai wel by ons uitgekom het. Dit behoort dit vir ons makliker te maak om onsself in 'n ander se skoene te plaas volgende keer wat ons onsself weer aan die slegte gewoonte wil skuldig maak. Ons ken nie 'n ander se hart of omstandighede om die daad enigsins te regverdig nie. Jesus Christus se liefde vir alle mense behoort ons finaal te kan oortuig.

Dit is ook natuurlik vanselfsprekend dat hierdie vrot appel wat ons "skinder" noem geensins in ons omgeegroepe tuis hoort nie. Inteendeel, dit is juis waar 'n veilige plekkie geskep moet word om mekaar te kan vertrou. Wat 'n heerlike gedagte om te WEET dat ons mede-christene het waarop ons kan vertrou. As bonus – kan ons nogal op elkeen staatmaak deurdat ons nooit bekommerd hoef te wees dat ons mekaar so onnodig sal of wil seermaak nie.

'n Bemoedigende woord aan die van ons wat wel daaraan skuldig is – vergewe jouself en slaan 'n nuwe blaadjie om. Aan diegene van ons wat aan die ontvang-kant was – ons kan die persoon vergewe wat ons seergemaak het sodat ons met vrede in ons gemoed kan aanbeweeg.

Alles wat ons kan seermaak, kan ook van ons 'n beter mens maak.