Deel van God se volmaakte plan met ons almal is om hierdie jaar meer as ooit te groei in ons verhouding met Hom, en om in pas met Sy wil te leef. Daar is vyf bakens wat hierdie jaar vir ons in die gemeente kan help om koers te hou op God se pad:
Gemeente-visie
Om 'n gemeente te wees waar lidmate, gedring deur die liefde van Christus, vir mekaar en ander omgee.
Jaartema
God roep, ons bou! Ons wil hierdie jaar spesiale moeite doen om doelgerig ons gemeente te herbou. Die afgelope paar jaar was moeilik. Ons het baie verliese beleef. Ons het kosbare lidmate verloor. Daar is baie bedieninge en aktiwiteite wat in ons gemeente dood geloop het. En die tyd het aangebreek vir ons om ook weer ons gemeente te herbou en op te bou. Ons is opgewonde oor wat die Here in ons en deur ons gemeente gaan doen. Hy het 'n spesiale plan vir ons en Hy is besig om 'n wonderlike storie deur ons te skryf.
Sy Woord
Ons wil in hierdie jaar groei in ons kennis en uitlewing van God se Woord. Ons wil ook dieper in ons verhouding met die Here groei. Daarom gaan ons Sondae en in ons omgeegroepe meer tyd spandeer om dieper te delf in die Woord en hoe ons dit in ons lewe kan toepas. Ons beplan lekker preek-reekse en werkswinkels vir die jaar.
Gebed
Ons is 'n geloofsfamilie en dit beteken ons beskou mekaar as boeties en sussies. Ons dra mekaar se laste en gee om vir mekaar. Ons gebedspan leef met die oortuiging van Jakobus 5:16 - Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking. Daarom wil ons ook meer van gebed in ons gemeente maak, sodat God se wil in ons gemeente sal geskied, ons Sy Gees se leiding duidelik sal ervaar, en dat alles wat ons doen Sy Koninkryk meer sigbaar sal maak. Ons wil ook nie hê ons lidmate moet alleen hulle uitdagings hanteer nie. Daar is toegewyde kinders van die Here wat reg staan om langs jou in te skuif en sáám jou te bid. Enige gebedsversoek is altyd welkom.
Verhoudings
Naas ons verhouding met God, is ons verhouding met mekaar ook 'n belangrike fokuspunt. Huweliksverhouding, gesinsverhouding en verhouding met mede-gelowiges (veral in ons bedieninge en omgeegroepe) is vir ons van wesenlike belang. Ons wil in hierdie jaar deurlopend aan ons verhoudings werk en so in ons verhoudings groei.
Kom ons gaan saam opmars met ons Leidsman, en laat Hom toe om ons te vorm en te gebruik tot Sy eer.