Die Afrikaanse Vertaling
Die eerste volledige bybelboek in Afrikaans was die Evangelie volgens Markus soos deur C.P. Hoogenhout vertaal.
Hierdie vertaling is nooit gepubliseer nie, maar die manuskrip is in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika in Kaapstad beskikbaar.
Die eerste Afrikaanse vertaling (bekend as die "ou" vertaling) van die Bybel het in 1933 verskyn.
Die vertaalwerk is deur prof. J.D. du Toit (Totius), prof. E.E. van Rooyen, prof. J.D. Kestell, dr. S.P.E Boshoff, dr. H.C.M. Fourie en prof B.B. Keet behartig (sien foto).
'n Hersiene uitgawe daarvan het in 1953 verskyn sodat die "ou vertaling" ook bekendstaan as die 1933/53-vertaling.
Die nuwe vertaling van die Bybel het in 1983 verskyn en word deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer.
Die eindredaksie van hierdie vertaling was prof. E.P. Groenewald, J.P. Oberholzer, A.H. Van Zyl, P. A. Verhoef, J.L. Helberg en W. Kempen.
Die eerste Afrikaanse Bybel vir Dowes is in 2008 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer.
Bron: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika
- Besonderhede
Die Bybel in Duits
"Ek brand eerder in 'n rooiwarm vuur as om hier te sit en verrot".
Hierdie opmerking van Luther vertel iets van sy gemoedstoestand as banneling in die kasteel in Wartburg. Dit het egter nie lank geduur voordat Luther sy ballingskap as 'n geleentheid begin sien het nie. Alhoewel hy longontsteking opgedoen het en aan hardlywigheid gely het, was hy veilig en het hy tyd gehad om te dink en te studeer. Sy pen het die instrument geword waarmee hy die Reformasie vanaf sy "Patmos" lewend gehou en bevorder het.
Een van die belangrikste bydraes wat Luther in hierdie tyd gemaak het, was die vertaling van die Bybel in Duits. Alhoewel daar reeds verskeie Duitse vertalings van die Bybel bestaan het, was dit volgens Luther ontoereikend omdat dit blote vertalings van die Vulgaat was. Dit was boonop baie duur en buite die bereik van gewone gelowiges. Hy het aan die werk gespring en teen September 1522, slegs drie maande nadat hy begin werk het, was sy Duitse vertaling van die Nuwe Testament by die drukpers. Albert Hyma, een van Luther se grootste kritici, skryf hieroor: "Selfs sy debat met Eck te Leipzig was nie so 'n aardskuddende gebeurtenis soos sy vertaling van die Bybel nie."
Die vertaling was 'n kitssukses. Melchior Lotter het dit in Wittenberg op drie verskillende drukperse gedruk. In drie maande is bykans 5 000 kopieë verkoop. Voordat die volledige Bybel in 1534 gedruk is, het 87 uitgawes verskyn en is meer as 200 000 kopieë gedruk.
Die vertaling van die Bybel in Duits was spreekwoordelik die nuwe wynsak vir die nuwe wyn waarmee Luther as teoloog na vore gekom het. Dit was die bron van sy teologie en die gesag waarop hy hom deurentyd beroep het. Regverdigmaking deur geloof, die Skrif alleen, geloof alleen, genade alleen en die priesterskap van alle gelowiges was die wyn wat uit hierdie nuwe sak gevloei het.
Luther se bydrae tot die reformasie het egter ook verder as bloot sy teologie gestrek. Die belangrikheid van prediking en musiek in die erediens, die ononderhandelbare belang van onderrig en lering en sy verstaan van die kerk as liggaam van Christus het boustene geword in 'n nuwe geloofstradisie van kerkwees wat soos 'n veldbrand deur die hele Europa versprei het.
Na sy dood in 1546 was geleerdes dit eens: Luther het die historiese kern van die Christendom herontdek!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Die Finale Streep in die Sand
"U Keiserlike Hoogheid en die ander geëerde here verwag 'n eenvoudige antwoord."
Wel, hier is dit, eenvoudig en reguit. Tensy ek deur die Skrif veroordeel word van 'n dwaling, of (aangesien ek geen vertroue het in die ongegronde gesag van die pous of die konsilies nie omdat dit duidelik is dat hulle dikwels gedwaal en hulleself weerspreek het) deur gesaghebbende beredenering, ag ek myself gebonde deur die Skrif waarop ek my beroep het.
My gewete is 'n gevangene van God se Woord. Ek kan en sal niks herroep nie, want om teen ons gewete op te tree, is nóg veilig, nóg geoorloof. Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. God help my. Amen!"
Met hierdie beroemde woorde het Martin Luther op 18 April 1521 tydens die Ryksdag van Worms finaal die streep in die sand getrek.
In die bykans drie jaar wat verloop het sedert 31 Oktober 1517 het die konflik tussen Luther en die kerk verskerp. Nadat Luther deur kardinaal Cajetan gekonfronteer is en na Rome ontbied is, moes hy vir sy lewe uit Augsburg vlug.
In Julie 1519 het Luther in 'n twisgesprek met Eck van Leipzig die pous se oppergesag en die onfeilbaarheid van konsillies verwerp.
In Junie 1520 is Luther vergelyk met 'n wilde vark wat 'n wingerd ingedring het, in die pouslike bul (brief) waarin hy met ekskommunikasie gedreig is. Dié brief van pous Leo X is tydens 'n feestelike geleentheid in Wittenberg deur Luther en sy mede-professore en studente verbrand.
In die herfs van 1520 het Luther drie boekies geskryf wat duidelik aangedui het dat daar nie meer omdraaikans was nie. 'n Ope brief aan die Christelike adel van die Duitse volk het eerste verskyn. Daarin het Luther klem gelê op die priesterskap van elke gelowige.
Dit is gevolg deur Die Babeloniese gevangeniskap van die kerk waarin Luther die sewe sakramente van die kerk bevraagteken het en beklemtoon het dat die Bybel net twee sakramente, naamlik die doop en nagmaal ken.
Die laaste van die drietal was die vryheid van 'n Christen waarin Luther beklemtoon het dat die Bybel leer dat mense uit genade en op grond van geloof alleen gered word.
Na die Ryksdag van Worms het die kerk alles in sy vermoë gedoen om Luther as misdadiger te brandmerk. Frederik van Sakse het hom egter oor Luther ontferm en aan hom skuiling gebied in 'n kasteel te Wartburg. Hier het Luther al sy tyd en energie gebruik om die Nuwe Testament in Duits te vertaal sodat almal die Bybel kon lees.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede