Lank voordat die skryfkuns uitgevind is (+-4de millennium v.C.), is die geskiedenis van God se volk mondelings van geslag tot geslag oorgedra deur pa's, ma's, leiers in die gemeenskap en storievertellers.
Later is die vertellings neergeskryf op kleitablette, boekrolle van dierevel (leerperkament) en papirusrolle.
Die neerskryf en oorskryf van manuskripte het vir eeue voortgegaan omdat die boekrolle met tyd vergaan het. Trouens, die Hebreërs was so besorg oor hulle antieke geskrifte dat hulle bekend gestaan het as "Die mense van die boek".
Die ontstaan van die boeke van die Ou Testament strek oor meer as duisend jaar. Die versameling van die boeke het in drie groepe (Wet, Profete en Geskrifte) plaasgevind tydens belangrike krisismomente in die geskiedenis van die Joodse volk.
Teen die einde van die 1ste eeu n.C. is die boeke van die Hebreeuse Ou Testament vasgestel.
In die Griekse vertaling van die Ou Testament wat aanvanklik in die vroee kerk gebruik is, was daar ook ander boeke (Apokriewe/Deuterokanonieke boeke) wat nie deel van die Protestante se Bybel is nie, maar in die Rooms-Katolieke kerk gebruik word.
Sedert die Kerkhervorming gebruik Protestante net die boeke van die Hebreeuse Ou Testament.
Bron: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Die Bybel is 'n besonderse boek wat oor 'n tydperk van minstens 1200 jaar geskryf is deur 'n verskeidenheid skrywers, van skaapwagters tot konings.
Dit sluit in profete soos Moses, Daniël en Jesaja en geleerde mense soos Esra, konings soos Dawid en Salomo, en apostels van Jesus Christus soos Petrus en Paulus.
Omdat daar so baie uiteenlopende skrywers was wat met die oog op heel verskillende situasies geskryf het, "hoor" die Bybelleser die Woord van God uit verskillende perspektiewe.
Die wonder van die Bybel is egter dat die verskillende boeke steeds dieselfde boodskap en begrip van wie God is, bevat!
Die Bybel is werklik 'n ongelooflike boek want dit spreek mense van alle ouderdomme en nasionaliteite deur alle eeue aan!
Bron: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Op ons historiese reis na die begin van die Reformasie het ons heelwat tyd saam met Martin Luther deurgebring. Ons reis neem ons nou verder om ander belangrike figure te ontmoet. Philippus Melanchton kom eerste aan die beurt.
Ná Luther se dood in 1546 het Melanchton die leierskap van die Reformasie in Duitsland oorgeneem. Hoewel minder bekend as Luther, Zwingli en Calvyn het Melanchton 'n onmisbare bydrae tot die voortgang van die Reformasie gemaak. Sy bekende woorde: "Ons sal alles beoordeel volgens die toetssteen van die evangelie en die vuur van Paulus", toon duidelik aan waar hy homself teologies bevind het.
Melanchton, wat aanvanklik in Tübingen Grieks doseer het, het Luther in 1518 in Wittenberg ontmoet. Die ontmoeting het van Melanchton die humanis, Melanchton die hervormer gemaak.
Tydens Luther se ballingskap in die kasteel in Wartburg, was dit Melanchton wat hom verteenwoordig en verdedig het. Volgens sommige historici het Melanchton se "gawe van logiese denke en wye kennis van die geskiedenis" hom selfs 'n groter rolspeler as Luther in die voortgang van die Reformasie gemaak.
In 1521 het Loci Communes (Common places) uit die pen van Melanchton verskyn. Dit was die eerste boek wat die beginsels van die Reformasie duidelik uiteengesit het.
Melanchton se belangrikste bydrae was en is egter steeds die Belydenis van Augsburg wat in 1530 gepubliseer is. Te midde van politieke chaos in Duitsland waar hervormingsgesindes en diegene wat pro-Katoliek was teenoor mekaar stelling ingeneem het, het die hervormers hulle geloofsverklaring by die Ryksdag van Augsburg in 1530 ingedien.
Dit was 'n versoenende nie-konfronterende uiteensetting van die leer van die Reformasie sonder dat die hart van die Reformasie prysgegee is.
Die belydenis het dit duidelik gestel dat "die nuwe lewe in Christus goeie werke tot gevolg het maar dat goeie werke van gelowiges geen bydrae tot hulle verlossing maak nie".
Die bekende woorde van Luther dat "goeie dade nie van jou ’n goeie mens maak nie, maar dat goeie mense goeie dade doen", is duidelik hierin terug te vind.
Hoewel die Belydenis van Augsburg die eenheid van Luther se volgelinge met Rome wou beklemtoon, het dit ook die fundamentele teologiese verskille tussen Rome en die Hervormers uitgewys.
Wat in 1517 as 'n protes teen die aflaatstelsel begin het, het die fondament geword vir 'n nuwe Evangeliese kerk in Duitsland. Dit sou egter ook lei tot 'n bloedige oorlog tussen die Hervormers en die Katolieke wat kort na Luther se dood in 1546 uitgebreek het.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
"Ek brand eerder in 'n rooiwarm vuur as om hier te sit en verrot".
Hierdie opmerking van Luther vertel iets van sy gemoedstoestand as banneling in die kasteel in Wartburg. Dit het egter nie lank geduur voordat Luther sy ballingskap as 'n geleentheid begin sien het nie. Alhoewel hy longontsteking opgedoen het en aan hardlywigheid gely het, was hy veilig en het hy tyd gehad om te dink en te studeer. Sy pen het die instrument geword waarmee hy die Reformasie vanaf sy "Patmos" lewend gehou en bevorder het.
Een van die belangrikste bydraes wat Luther in hierdie tyd gemaak het, was die vertaling van die Bybel in Duits. Alhoewel daar reeds verskeie Duitse vertalings van die Bybel bestaan het, was dit volgens Luther ontoereikend omdat dit blote vertalings van die Vulgaat was. Dit was boonop baie duur en buite die bereik van gewone gelowiges. Hy het aan die werk gespring en teen September 1522, slegs drie maande nadat hy begin werk het, was sy Duitse vertaling van die Nuwe Testament by die drukpers. Albert Hyma, een van Luther se grootste kritici, skryf hieroor: "Selfs sy debat met Eck te Leipzig was nie so 'n aardskuddende gebeurtenis soos sy vertaling van die Bybel nie."
Die vertaling was 'n kitssukses. Melchior Lotter het dit in Wittenberg op drie verskillende drukperse gedruk. In drie maande is bykans 5 000 kopieë verkoop. Voordat die volledige Bybel in 1534 gedruk is, het 87 uitgawes verskyn en is meer as 200 000 kopieë gedruk.
Die vertaling van die Bybel in Duits was spreekwoordelik die nuwe wynsak vir die nuwe wyn waarmee Luther as teoloog na vore gekom het. Dit was die bron van sy teologie en die gesag waarop hy hom deurentyd beroep het. Regverdigmaking deur geloof, die Skrif alleen, geloof alleen, genade alleen en die priesterskap van alle gelowiges was die wyn wat uit hierdie nuwe sak gevloei het.
Luther se bydrae tot die reformasie het egter ook verder as bloot sy teologie gestrek. Die belangrikheid van prediking en musiek in die erediens, die ononderhandelbare belang van onderrig en lering en sy verstaan van die kerk as liggaam van Christus het boustene geword in 'n nuwe geloofstradisie van kerkwees wat soos 'n veldbrand deur die hele Europa versprei het.
Na sy dood in 1546 was geleerdes dit eens: Luther het die historiese kern van die Christendom herontdek!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).