Op reis terug in ons gereformeerde verlede is daar talle persone wat 'n belangrike rol in die geskiedenis gespeel het by wie ons kan aandoen. John Wyclif is een van hierdie mense.
DiƩ belangrike Engelse hervormer van die laat Middeleeue is omstreeks 1324 gebore. Hy was een van die rolspelers wat die grond vir Luther en die reformasie help voorberei het.
Wyclif is in 1340 na Oxford waar hy met sy teologiese studie begin het. Hy het hom gou die wrewel van die kerk op die hals gehaal toe hy die regering se onteiening van eiendom van korrupte kerkdienaars gesteun het.
Hy het verder gegaan deur kernleerstellinge van die kerk te bevraagteken. Een daarvan was die belangrike transubstansiasieleer. Hy was van mening dat Christus geestelik teenwoordig is in die nagmaal en het verder geleer dat die kerk uit die Here se uitverkorenes bestaan en nie priesters nodig het om as tussengangers tussen hulle en die Here op te tree nie.
Een van die heel belangrikste nalatenskappe van Wyclif was die feit dat hy die kollig weer op die Bybel laat val het. Hy was uitgesproke oor die gesag van die Bybel wat volgens hom nie net nog 'n gesagvolle dokument naas ander was nie, maar wat uitgestaan het bo alle ander bronne.
Hy het dit as die "wet van Christus" beskryf en alle ander dokumente bloot as "takke wat uitspruit uit Christus se wet" beskou. Daarom het hy ook die Latynse Vulgaat in Engels vertaal. Dit het bekend geword as die Wyclif-Bybel.
Wyclif se bydrae tot ons gereformeerde verlede kan opgesom word deur 'n stelling van sy groep ondersteuners, die Lollarde of mompelaars: "Daarom vra ons God in sy wonderlike goedheid om ons kerk te hervorm... tot die volmaaktheid wat dit aan die begin gehad het."
John Wyclif het die eerste tree gegee op die pad waarop Luther later sou loop.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).