"Goeie dade maak nie van jou 'n goeie mens nie, maar 'n goeie mens doen goeie dade!"
Hierdie stelling van Luther is een van vele wat hom direk in stryd met die kerk gebring het. Hy het dit veral teen die verkoop van aflaatbriewe gehad. Op 24 Februarie 1517 het Luther die aflaatstelsel in 'n preek veroordeel. Volgens hom het die stelsel mense aangemoedig om sonde te doen en hulle daarvan weerhou om God regtig as 'n genadige Verlosser te leer ken.
Die aflaatstelsel was gebaseer op goeie werke wat uit vrees en pligsbesef gedoen is. Volgens die leerstellinge van die Middeleeuse Katolieke kerk het Christus, Maria en die heiliges sonder sonde geleef en gesterf. Hulle het ook 'n groot aantal goeie werke gedoen wat in die hemel bewaar is.
Omdat gewone mense aan die einde van hulle lewe meer sonde as goeie werke gehad het, moes hulle 'n boete daarvoor betaal. Hierdie betaling is gemaak deur 'n bepaalde tyd in die vagevuur deur te bring. Wanneer die tyd verstryk het, is 'n sondaar tot die hemel toegelaat.
Familie en vriende kon aflaatbriewe koop om 'n persoon se tyd in die vagevuur korter te maak. Lidmate kon ook terwyl hulle nog geleef het, aflaatbriewe koop wat dan van die goeie dade wat in die hemel bewaar word na hulle lewe as krediet oorgedra sou word.
Luther het die stelsel nie net in die prediking aangeval nie. Volgens tradisie het hy op 31 Oktober 1517 sy standpunt in 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker.
Twee sake het hom gemotiveer: Eerstens het Tetzel, 'n Dominikaanse monnik aflaatbriewe in die omgewing van Wittenberg begin verkoop. Sy bemarkingstrategie het bestaan uit 'n reusevuur wat op die dorpsplein gemaak is. Inwoners van die dorp is dan vertel dat 'n soortgelyke vuur, net veel warmer, op almal wag indien hulle nie aflaatbriewe sou koop nie.
Besigheid het gewoonlik goed verloop en die kerk het enorme bedrae geld uit die vrees van mense ingesamel. Daar is vas geglo dat wanneer 'n muntstuk in die geldkis val, 'n siel uit die vagevuur sou spring!" Die geld is vir die bou van die Basilika in Rome ingesamel waar die "bene van Petrus, Paulus en ander heiliges" in haglike omstandighede bewaar is.
Tweedens was Luther bekommerd oor die pastorale gevolge wat die verkoop van die briewe ingehou het.
Na Luther se ontmoeting met die genadige God van Romeine 1 kon hierdie bedrog nie langer voortgaan nie. Met sy 95 stellinge sou hy sy lewe op die spel plaas om dit stop te sit.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).