Die belangrikste patofisiologiese gevolg van kruisiging was 'n belemmering van normale asemhaling - veral uitaseming. Die gewig van die liggaam wat trek aan die uitgestrekte arms en skouers, neig om die spiere tussen die ribbes te fikseer. Uitaseming, wat gewoonlik 'n passiewe proses is, word veral beïnvloed. Die asemhaling word vlak en koolsuurgas hoop op. Dit lei tot krampe en selfs sametrekkings wat asemhaling nog verder belemmer.
Om uit te asem, moet die liggaam opgelig word deur op te druk op die voete. Hierdeur word die hele liggaamsgewig op die voete geplaas - wat erge pyn sou veroorsaak. Dit veroorsaak verdere pyn as die rou rug teen die paal geskuur word. Elke asemhalingspoging is pynlik en put die slagoffer verder uit. Mettertyd lei dit tot versaking van die asemhalingsisteem.
Die werklike oorsaak van Jesus se dood kan nie aan 'n enkele faktor toegeskryf word nie. Dit was 'n kombinasie van bloedverlies (as gevolg van die geseling), uitputting, asemhalingsversaking en hartversaking. Moontlik was 'n ritmestoornis van die hart verantwoordelik vir die finale katastrofiese gebeurtenis.
Oorspronklik geskryf deur Dr Coen Slabber.
Die volledige artikel kan op www.bybelkennis.co.za gelees word.