Met al die ouderdomme bymekaar laat dit ons toe om elke keer mekaar opnuut te ontdek, ander te leer ken en sommer heerlik saam te lag en gesels as ons een keer per maand bymekaarkom, gewoonlik op 'n Sondag na kerk, waar plekke ontdek en verken word. So is die Gautrein roete al gesien en verken, ons gaan teater en inry toe, drink tee by verskeie kwekerye en teetuine.
Daar is ook al 'n hele aantal staproetes in die natuur voltooi en verskeie geskiedkundige plekke en museums is ook al besoek. Partykeer is dit sommer net 'n gesellige piekniek waar ons onder die bome sit en lag en gesels, speletjies speel of ons gaan eet net pannekoek of hou heerlike sopaande met speletjies of kyk na die sterre. Alles geskied op so wyse dat ons ons Hemelse Vader daarin verheerlik in alles wat ons doen en ervaar.
Die hoogtepunt van elke jaar se gebeure is egter die kamp waar ons vir 'n hele naweek wegbreek om geestelik te groei en mekaar te leer ken in 'n omgewing waar almal "vreemd" is, weg van die daaglikse gewoel en gestoei en so nader aan ons Hemelse Vader te kom in die Natuur.